Sinnelose skietvoorvalle blyk om nou die nuwe normaal in die dorp te wees.
’n Persoon is Sondag 6 Februarie in Le Sueurstraat gewond toe ’n onbekende persoon hom geskiet het.
Volgens AO Vathiswa Jacobs, polisiewoordvoerder, het hulle omstreeks 21:55 op ’n klag van ’n skietery in Le Sueurstraat, Victoriapark, gereageer.
“Met hul aankoms het die polisielede die slagoffer met ’n skietwond in die rug gevind. Volgens die slagoffer het hy erken dat hy ’n bendelid is en ’n onbekende persoon van ’n ander bende het hom met ’n vuurwapen vanaf Durbanstraat agtervolg,” sê Jacobs.
Sy voeg by dat toe die slagoffer in Le Seurstraat aankom, het die onbekende verdagte die slagoffer in sy rug geskiet en toe weggehardloop. Die slagoffer is hospitaal toe geneem.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

