Dorpe soos Worcester in die platteland is ’n groot trekpleister vir misdadigers, veral as hul kluitjies in stedelike gebiede begin uitbak. Sodra misdaad in sekere gebiede bekamp word, trek die misdadigers net na landelike gebiede, sê die Wes-Kaapse regering.
Die jongste kwartaallikse misdaadsyfers, dié vir die eerste drie maande van die jaar, plaas verskeie polisiekantore buite Kaapstad onder die top-30 landwyd vir sommige misdaadkategorieë.
Worcester is onder die top-30 vir kontakmisdade (622) en in die 10 de plek in die kategorie vir 17 ernstige misdade wat deur die gemeenskap aangemeld word (1 574). Dié kategorie sluit in misdade soos moord, brandstigting, seksuele aanranding en sekere kategorieë inbrake.
Stellenbosch se polisiekantoor is 26ste in die kategorie vir 17 ernstige misdade landwyd met 1 428 klagte.
Paarl-Oos se kantoor is negende met die getal klagte van seksuele aanranding (12), terwyl Thembalethu, Beaufort-Wes en Oudtshoorn ook onder die top-30 is.
Knysna en Worcester het die derde meeste klagte van kontak-seksuele misdade ontvang (drie elk).
Ceres het die vierde meeste klagte van wegvoering (waar iemand op bedrieglike wyse oortuig word om êrens heen te gaan) gehad en Worcester is sewende.
Allen het verlede maand in ’n repliek gesê 195 klagte van seksuele oortredings is van Januarie verlede jaar tot Maart vanjaar in Knysna aangemeld, met 163 in Thembalethu.
Altesaam 47% van die dwelmhuise wat aan die polisie bekend is, is tans buite die Kaapstad-metro.
Reagen Allen, LUR vir polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, het verlede week gesê sy departement het inligting gekry dat dwelmsmouse “wat dalk in die soeklig is” van die plattelandse gemeenskappe hul nuwe tuiste maak.
“Alle misdadigers oor die provinsie heen behoort ongemaklik te voel. Ek doen ’n beroep op ons landelike gemeenskappe om hulle by ons aan te sluit in die stryd teen diegene wat misdade wil pleeg.”
Allen het vroeër die maand ’n kwartaallikse vergadering oor landelike veiligheid saam met Ivan Meyer, LUR vir landbou, bygewoon waar die vordering met die gebruik van tegnologie en die akkreditasie van buurt- en plaaswagte bespreek is.
Hy het verlede Woensdag gesê daar word in samewerking met die provinsiale departement van landbou hard gewerk om die getal moorde in die provinsie teen 2029 te halveer.
Meyer het gesê ’n bykomende 174 buurt- en plaaswagte is in die provinsie geakkrediteer om die totaal op 498 te staan te bring. Volgens hom vereis die provinsiale landelike veiligheidsplan dat die polisie, buurt- en plaaswagte, die private sektor en ander strukture saamwerk. Hy sê die Wes-Kaap is die enigste provinsie wat ’n landelike veiligheidsplan toepas.





