’n Plaaslike polisiebeampte, kapt. Ronelle Alberts, is die enigste vrou in die Suid-Afrikaanse Aanvalsgeweervereniging se Proteaspan.


’n Polisievrou van Worcester voel geëerd nadat sy vroeër die maand haar Protea-kleure in aanvalsgeweerskiet verwerf het.

Kapt. Ronelle Alberts, ’n sektorbestuurder by die Worcester-polisiekantoor, het van 8 tot 13 Augustus aan die nasionale aanvalsgeweer-skietkompetisie in Bloemfontein deelgeneem. Deelnemers van die jaarlikse kompetisie sluit in lede van die SAPD, weermag, korrektiewe dienste asook private deelnemers.

“Om die Proteaspan te haal, is nogal ’n groot eer vir my. Die kompetisie gaan oor baie meer as net skiet. Wanneer jy begin, is jy ’n B-klas-skut. Ná drie jaar gaan jy oor na die A-klas, waar jy ook dan jou presidentskleure moet werf. Daarna vorder jy na die X-klas en dán eers kan jy vir die SA span kwalifiseer. Dit gaan oor jare se punte wat jy kry, dit gaan oor konsekwentheid voordat jy vir die Proteaspan gekies word.”

Alberts het 18 jaar gelede begin skiet en ryg sedertdien die prestasies in.

“Agtien jaar gelede, tydens een van die polisie se roetine-skietoefeninge, het my kollegas kommentaar gelewer oor hoe goed ek skiet en gesê ek moet by die Aanvalsgeweervereniging aansluit. Ek het so bietjie gedink, en besluit hoekom nie,” vertel sy.

Sy sê hierdie sport verskaf haar baie genot.

“Dit is lekker afleiding en ’n manier om van stres ontslae te raak – die sport verg baie konsentrasie, en wanneer jy skiet, moet jy alles afsny en konsentreer op wat jy doen. Daar is ook baie kameraadskap, so jy is ook nooit op jou eie nie.”

Voorts verduidelik sy dit is nie net vir skiet om die teiken raak te skiet nie.

“Jy moet baie fiks wees. As jy byvoorbeeld van 300 m af moet skiet, moet genoeg bloed na die oë kan vloei sodat jy reg kan fokus, anders mis jy. Al die fiksheidselemente werk saam.”

Sy is tans die enigste vrouelid van die Proteaspan wat almal op 13 Augustus ’n goue medalje gekry het toe hulle ’n Nederlandse span met 1 788 teen 1 493 platgeskiet het.

“Dis nogal iets. Daar was baie jare laas ’n vrou in die Proteaspan opgeneem. Dit voel goed om uiteindelik in die span te wees. Dit voel egter soms ’n bietjie anders.”

Alberts is reeds sedert 1994 ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en het ’n passie vir wat sy doen.

“Beide my ouers was destyds in die staatsdiens. My suster se man was ook destyds ’n polisieman en later het sy ook by die polisie aangesluit, en dit was vir my sinvol om ook aan te sluit. Dis vir my lekker om my gemeenskap te dien en te beskerm.

“Ek hou ook daarvan om met mense te werk.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article