’n Bekroonde skeidsregter van Boland-rugby het bedank nadat hy doodsdreigemente ontvang het.
Lee Beukes (33), wat vanjaar aangewys is as die Boland se Skeidsregter van die Jaar, het verlede Saterdag op die Boland-rugbystadion in die Sanlam-Boland-Top-12 sy laaste wedstryd geblaas.
Beukes, ’n wetstoepassingsbeampte van die Kaapstad-metro, het Woensdag sy bedanking by die Boland Rugby-skeidsregtersvereniging ingedien as gevolg van direkte dreigemente wat hy onlangs ontvang het.
Hy het gesê die situasie het ’n punt bereik waar hy vrees vir sy lewe nadat hy verskeie doodsdreigemente op Facebook ontvang het – van mense wat hy nie eens ken nie.
Hy het die aangeleentheid by die Valke aangemeld en dit word tans ondersoek.
Beukes is al sedert 2011 ’n skeidsregter en is voorheen al verskeie kere as skeidsregter vereer.
Hy was juis onlangs in die nuus toe hy die lewe van Lindsay Eksteen (29), ’n speler van die Robertson-rugbyklub, gered het toe Eksteen tydens ’n wedstryd teen Darling ’n aanval gehad het.
Volgens Beukes is hy nie die enigste Boland-skeidsregter wat op sosiale media aangeval word nie.
Hy sê die Valke is tans besig om na te spoor van watter selfoontorings die boodskappe gestuur is.
Boland Rugbyunie is ook ingelig.
Die ondersoek is nie op die unie gerig nie, maar wel op ondersteuners van verskillende spanne.
“Dit is hoe baie van die spanne my ken. Ná die wedstryd is ek daar vir die volgende halfuur. Vra my hoekom het ek jou daar gestraf. Maar die ondersteuners is die probleem omdat hulle voel hulle het R20 of R30 betaal en kan jou uitvreet soveel as hulle wil,” het Beukes onlangs aan ’n dagblad gesê.
Boland Rugbyunie het teen druktyd nog nie Paarl Post se navrae beantwoord nie.




