Eskom will implement Stage 3 loadshedding on Monday and Tuesday evenings.


Te midde van fase 6-beurtkrag moes Suid-Afrikaners verlede Maandag hoor dat petrol en diesel se prys hierdie maand weer skerp styg.

Die impak wat beurtkrag op die land se ekonomie het, kan nie herstel word nie, met ’n geraamde R6 miljard wat per dag verlore gaan.

Die president van die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid, advokaat Mthokozisi Xulu, sê die beurtkragkrisis veroorsaak geweldige kommer by ondernemings aangesien die verlies aan produktiwiteit nou presies dieselfde gevolge as die Covid-19-pandemie het.

Met min tot geen vordering in die sogenaamde negepuntplan wat in 2018 deur Eskom aangekondig is om beurtkrag te oorkom nie, sê Xulu daar is steeds geen aanspreeklikheid by Eskom nie en dat dít ’n oplossing vir beurtkrag in die wiele ry.

Intussen het Eskom en die drie erkende vakbonde tot ’n vergelyk gekom oor loonverhogings van 7%, ’n week nadat die kragvoorsiener begin het om langdurige kragonderbrekings te implementeer. Eskom het hoofsaaklik die stakende werkers vir die jongste ronde beurtkrag blameer.

Die hernubare energiesektor het ook die regering gevra om nou ’n konkrete plan en duidelike tydlyn te verskaf oor hoe hy beplan om die voortslepende energiekrisis op te los.

Die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging (SAWEA) het ’n beroep op die regering gedoen om leiding te neem en ’n omvattende strategiese plan te ontwikkel om die energiekrisis op te los en dit te prioritiseer met dieselfde dringendheid as wat hulle die Covid-19-pandemie aangepak het.

SAWEA sê hy glo belanghebbendes in SA het die kundigheid om ’n plan te bedink wat tot ’n werkbare oplossing sal lei.

Dit het ook die afgelope week gelyk asof daar nog nie ’n einde aan die huidige ronde beurtkrag is nie.

Boonop het motoriste wéér Disdagaand tougestaan om hul tenks vol te maak ná die aankondiging dat ’n groot styging in brandstofpryse Woensdag in werking tree.

Pryse het as volg gestyg: . 93 petrol met R2,37 per liter. 95 petrol R2,57 per liter. Diesel (0,05% swael) R2,31 per liter. Diesel (0,005% swael) R2,30 per liter

Die jongste data van Statistieke Suid-Afrika het aan die lig gebring dat die verbruikersprysindeks (VPI) 6,5% bereik het, wat bo die maksimum 6%-teiken van die Suid-Afrikaanse Reserwebank en die hoogste sedert 2017 is.

In ’n verklaring Dinsdag het die VF Plus gesê Suid-Afrikaners is nou vir oorlewing afhanklik van elektrisiteit wat nie beskikbaar is nie en vloeibare brandstof wat nie bekostigbaar is nie.

Boonop word van huishoudings en ondernemings, wat toenemend op vloeibare brandstof vir hul energiebehoeftes aangewese is, verwag om brandstofheffings te betaal wat uitsluitlik vir padgebruikers ingestel is.

“Hoewel ’n land se ekonomie gewoonlik in terme van geld gemeet word, is energieverbruik ’n meer akkurate weergawe daarvan,” sê dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder oor mineralehulpbronne en energie.

“Sowat sestig persent van die land se vloeibare brandstof word tans ingevoer. Die land se ekonomie is daarom toenemend afhanklik van internasionale faktore en die afnemende vermoë van hawens.

“Asof dit nie genoeg is nie, word duisende kragopwekkers met petrol en diesel aangedryf. Daar is wel ’n klein deel van die ekonomie wat met die minste denkbare ontwrigting voortgaan: Dit is die huishoudings en ondernemings wat hulle reeds van konvensionele energiebronne bevry het. Dit behels nie net sonkrag- en batterystelsels nie, maar ook elektriese vervoer wat daaraan gekoppel is.”

Boshoff sê die staat kan ’n belangrike bydrae lewer om te voorkom dat die huidige krisis in ’n ramp ontaard: Dit is om alle belasting uit die brandstofprys te verwyder en die mark vir voorsiening van hernubare krag heeltemal oop te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article