Verskeie sake van motordiefstal is die afgelope paar weke in die Breedevallei aangemeld, en inwoners wonder of dit dalk die werk van ’n misdaadsindikaat kan wees.

Leon Willemse (44) se wit Honda Ballade is onlangs buite sy huis in Riverview gesteel. Hy het Dinsdag 1 November gehoor hoe iemand buite sy huis skarrel, maar nie veel daarvan gedink nie. ’n Paar minute later was sy motor egter skoonveld.

“Ek woon in ’n besige straat en dis altyd bedrywig. Ek het so 22:00 gehoor hoe iets of iemand buite my huis beweeg, maar dit toegeskryf aan kinders wat in die straat loop. Toe ek so ’n uur later uit is om my selfoon se herlaaier uit die kar te gaan haal, was my kar net weg. Ek het dadelik die polisie gebel,” het Willemse aan Standard vertel.

Verskeie inwoners het hulle ook die afgelope tyd tot plaaslike Facebookblaaie gewend nadat hul motors óf gesteel is óf by hul voertuie ingebreek is en goed uit die motor gesteel is.

’n Onberispelike bron het aan Standard vertel verskillende misdaadsindikate steeks tans oral in die Wes-Kaap die kop uit.

“Hier is talle sindikate wat veral dwelms en motordiefstal insluit. Die polisie doen wat hulle kan, maar die boewe is uitgeslape. Daar was lank ’n sindikaat wat veral Toyotas en Volkswagens geteiken het, maar in hierdie stadium blyk dit enige voertuig wat nie ’n opspoortoestel of alarm het nie, word geteiken.”

Die Worcester-polisie het van die voorvalle bevestig.

“In Oktober is vyf klagtes van motordiefstal aangemeld, waarvan een deur die klaer teruggetrek is, een as onopgespoor afgesluit is en drie nog ondersoek word. Ons probeer ons bes om hierdie sake ook te prioritiseer en maan die publiek om klagtes aan te meld,” sê Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie.

Jacobs deel ook ’n paar veiligheidswenke vir wanneer jy jou voertuig gebruik of parkeer:

Wenke:1. Vermy om jou voertuig te parkeer waar geen veiligheidsbeamptes is wat oor ander voertuie waak nie.2. Maak seker al die deure en vensters is toe en behoorlik gesluit wanneer jy jou voertuig parkeer.3. Maak altyd jou vensters toe wanneer jy in die middestad ry.4. Moenie handsakke, aktetasse, selfone, inkopiesakke of enige ander waardevolle artikels sigbaar in die kar laat rondlê nie.5. As jy twyfel oor die veiligheid van ’n gebied, skakel die plaaslike polisie vir inligting daaroor.6. Gebruik dieselfde voorkomingsvaardighede wat jy in parkeerterreine en motorhuise toepas by die huis ook.7. Moet nooit jou sleutels in die aansitter los nie.8. Probeer om ’n alarm en/of anti-diefstaltoestel in jou voertuig te plaas.9. Verwyder ’n losstaande radio, die radio se gesig en CD’s wanneer jy uitklim.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article