’n Worcester-inwoner is ontstoke nadat ’n skelm doodeenvoudig haar dogter se motor se deur oopgemaak en drie selfone gesteel het.

“My dogter was verlede Saterdag by die Mountain Mill-winkelsentrum. Sy was skaars tien minute binne. ’n Ruk later, toe sy haar foon wou gebruik, het sy besef dis weg. My foon was ook in die motor en gekoppel aan die herlaaier,” verduidelik die vrou.

Sy en haar dogter is die volgende dag terug na die winkelsentrum en het die veiligheidsmense daar geraadpleeg en gevra om na die kringtelevisie-beeldmateriaal van Saterdag te kyk.

“Ons het gesien hoe my dogter haar motor parkeer. Net nadat sy by die sentrum ingegaan het, het ’n man na die motor geloop, die deur oopgemaak, die selfone geneem en uitgeklim. Hy het ook gekyk of daar goed in die motor se bagasiebak was,” verduidelik sy.

Sy kon egter nie rus vir haar siel kry ná hierdie gebeure nie.

“Ek het die volgende dag weer teruggegaan en ’n bietjie rondgevra en dinge dopgehou. Volgens die inligting wat ek bymekaar gemaak het, blyk dit duidelik ’n sindikaat is in die sentrum se parkeerarea besig. Volgens die veiligheidswag wat ons gehelp het, is dit wel so. Inligting dui ook daarop dat hulle gebruik maak van ‘signal jammers’, wat mense verhinder om hul motor met hul afstandbeheerders te sluit.”

Standard het die polisie gevra hoeveel sulke sake al aangemeld is, maar het teen druktyd nog geen terugvoer ontvang nie.

’n Navraag is ook aan die bestuur van Mountain Mill gestuur, maar geen terugvoer is ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article