Lede van Innovation for the Blind in Worcester het Kindersorg in Worcester op Woensdag 7 Junie met hul talente verras. Nie net is Kindersorg verras met gebreide beertjies vir die kinders nie, maar ook bekoor met sang, musiek en poësie.
Kindersorg se kantoorhoof in Worcester, Alicia Prins, sê: “Dit het ons as personeel laat besef dat hoewel hierdie spesiale mense nie-sigsiende is nie, hulle net so normaal en veel meer talentvol is.”
Volgens Prins was dit ’n lekker oomblik saam met die span van Innovation for the Blind, en hoop Kindersorg vir vele soortgelyke oomblikke.
Sy sê namens Kindersorg dankie aan die bestuur en personeel wat hierdie inisiatief geneem het om die “wonderlike mense” op hul pad te stuur.
Prins sê Kindersorg vra die gemeenskap en sake-ondernemings om ondersteunend te wees ten opsigte van dié talentvolle span, asook die res van die blindes in die gemeenskap.
Sy haal ’n vers aan uit Jesaja 42:16: “En Ek sal blindes lei op ’n weg wat hulle nie ken nie, hulle laat loop op paaie wat vir hulle onbekend is; Ek sal die duisternis lig maak voor hulle uit en die hobbelagtige plekke gelyktes. Dit is die dinge wat Ek doen.”




