Verlede jaar het Shané Zeelie, ’n leerder van HTS Drostdy, op 16-jarige ouderdom geskiedenis gemaak deur as die jongste deelnemer nog die titel van Teen Miss Western Province te wen.
Nou, ’n jaar later, berei sy voor om haar kroon op Saterdag 23 November oor te dra aan die volgende wenner, terwyl sy terugkyk op ’n onvergeetlike jaar vol groei, uitdagings en lewenslesse.
Vir Shané was die ervaring om die titel te dra ’n voorreg wat haar in staat gestel het om ’n positiewe verskil in haar gemeenskap te maak.
“Teen Miss Western Province het nooit net oor die kompetisie gegaan nie. Dit het gegaan oor groei en hoe ek die wêreld positief kan beïnvloed. Ek het geleer dat selfs ’n klein gebaar ’n groot verskil kan maak,” sê sy.
Shané het op ’n jong ouderdom aan meer as 80 skoonheidskompetisies deelgeneem, maar het sewe jaar gelede besluit om ’n pouse te neem om op haar skoolwerk en sport te fokus.
Haar terugkeer verlede jaar is geïnspireer deur ’n eenvoudige besluit: “Ek het een oggend wakker geword en besef dat ek weer hierdie pad wil stap. Môre is vir niemand gewaarborg nie, en ek wil my lewe voluit leef.”
Tydens haar jaar as Teen Miss WP het Shané bewys dat dit moontlik is om skoolwerk, sport en liefdadigheidsprojekte te balanseer. Sy was betrokke by verskeie organisasies, waar sy skenkings oorhandig, geldinsamelings ondersteun en motiveringspraatjies aangebied het. Sy glo haar sukses lê in haar liefde vir wat sy doen en haar vermoë om altyd haar hart te volg.
Benewens die kroon het Shané vyf ander toekennings in die Mej. Teen-kompetisie gewen, insluitend beste onderhoud. Sy beskryf die prestasie as betekenisvol omdat dit haar die geleentheid gegee het om vrae eerlik en spontaan te beantwoord.
“Die geheim is om net jouself te wees en uit jou hart te praat,” sê sy.
Shané se droom is om onthou te word as iemand wat vriendelikheid en deernis uitstraal. Sy is ook passievol oor radiografie en hoop om eendag in hierdie veld te werk, waar sy kliënte se gemoedsrus kan verseker.
“Vriendelikheid kan ’n donker wolk ligter maak.”
Vir meisies wat daarvan droom om aan skoonheidskompetisies deel te neem, het Shané eenvoudige maar kragtige raad: “Bly nederig en bly getrou aan wie jy is. Die mens wat jy was voor die kroon is die een wat gewen het.”
Shané se jaar as Teen Miss Western Province was gevul met uitdagings, oorwinnings en onvergeetlike oomblikke. Haar positiewe uitkyk op die lewe en haar toewyding aan ander maak haar ’n ware inspirasie vir haar gemeenskap en verder.
Boonop het Shané vanjaar die Tess Marais-wisseltrofee vir beste vordering in hokkie by HTS ontvang.
Sy is ’n buitelug-, sportiewe en lewenslustige jong vrou, beter bekend in die gemeenskap as Worcester se liefling. Sy lewer ook ’n groot bydrae by haar skool se noodhulp-afdeling waar sy uithelp met beserings, ook op sportdae.





