Die sewe kleuters wat nou skoolgereed is en na gr. R bevorder word, by een van Juweeltjies se skenkers.Foto:


’n Voorskoolse groepie kleuters, wat aanvanklik uit nood gestig is om die druk van ouers met klein kindertjies te verlig, maar veral dié wat nie ’n heenkome gehad het vir hul kinders wanneer hulle moes gaan werk nie, het pas hul sewende bestaansjaar gevier.

Boonop is sewe van die groepie met uitstekende vaardighede toegerus en skoolgereed gekry om nou as gr. R-leerders in die hoofstroom-stelsel opgeneem te word.

Die Juweeltjies-speelgroep is in Januarie 2016 deur die huidige hoof, Spes Kapot, met vier kindertjies in ’n tweevertrek-wendyhuis in Rhodestraat in Roodewal begin. Vandag pronk die skooltjie met 25 tot 30 kinders elke jaar, onder wie babas van net ses maande tot vyfjarige kleuters, wat deur toegewyde personeel versorg word terwyl die ouers met geruste harte by die werk kan wees met die wete dat hul kinders nie net baie goed versorg word nie, maar ook elke dag van voedsame maaltye voorsien word. Om hierdie geleentheid te vier, is ouers en die kinders verlede maand met ’n lekker bederf in die saal van die VGK Worcester-Oos onthaal.

Kapot, ’n toegewyde en goed gekwalifiseerde voorskoolse opvoeder, is ook die voorsitter van die Angel Lovers Forum, ’n forum bestaande uit nagenoeg 40 sorgsentrums en onder een sambreel omsien na die behoeftes van voorskoolse kleuters in bykans al die woongebiede in ons dorp.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article