Die groep bewoners van die plaas Weltevrede in De Doorns Abraham Witbooi, Sareldene van der Merwe, Elsa Witbooi, Florence Sass en April van der Westhuizen. Hulle sê hulle is al byna sewe maande sonder water. Op die foto is die groep met van die kanne wat hulle gebruik om water te gaan haal. Foto: Dominique Jeftha


’n Groep bewoners van die plaas Weltevrede in De Doorns is al byna sewe maande sonder water.

Standard het Vrydag 18 Maart die groep inwoners besoek. Hul huise is langs die woonbuurte Stofland en Lubisi geleë en word deur ’n groot sloot van dié twee woonbuurte geskei.

Volgens die plaasbewoners is hulle al die afgelope sewe maande sonder water. Hulle kry tans water van ’n gemeenskaplike kraan in Stofland. Boonop, wanneer hulle kinders van die buurt stuur om water te gaan haal, moet hulle die kinders betaal, sê hulle.

Hulle moet R5 aan die kinders betaal vir elke 25 liter water wat hulle (die kinders) gaan haal.

Elsa Witbooi wat op die plaas woon, verduidelik sy betaal sowat R100 om haar wasgoed te was omdat sy die kinders in die buurt moet stuur om genoeg water vir haar te gaan haal.

“Die kinders wil betaal wees. Hulle word gereeld afgesit (beroof) en dan word ons water afgevat. Ons is pensioenarisse, ons kan nie elke dag betaal om water te gaan haal nie.”

Nog ’n inwoner Florence Sass sê dis onhigiënies om sonder water klaar te kom. Hulle kan soms nie was nie.

“Ons dank die Here ons het nog nie Covid gehad nie, want ons sou nie oorleef het nie. Ons toilette kan nie spoel nie, dit is veiliger om bos toe te gaan,” sê sy.

Die bewoners het vroeër van ’n boorgat op die plaas gebruik gemaak, maar dit het sedertdien onklaar geraak.

“Ons kan doodgaan, want hier is ’n paar van ons wat diabete is en chroniese siektes het.

“Ons stem vir die raadslede en die munisipaliteit, maar hulle wil nie vir ons bystaan nie. Hulle sê vir ons die huise is op private grond, maar as dit stemtyd is, dan is hulle hier voor jou deur,” sê Witbooi.

Die groep beweer die munisipaliteit het hulle aan die begin van die krisis bygestaan, maar het die afgelope tydperk geen hulp aangebied nie.

By navraag het die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) gesê Weltevrede is private eiendom (’n plaas) en die munisipaliteit lewer nie dienste op plase nie.

Volgens JP Myburg, kommunikasiebeampte van die BVM, is daar wel ’n boorgat wat water aan die munisipale huise langsaan verskaf het. Dit is foutief, maar word tans herstel.

“Daar is in die tussentyd wel water aangelê om die munisipale huise water te gee (uit die reservoir) en sover ek kon uitvind, kom haal die Weltevrede-mense daar water.”

Myburg sê die afgelope paar weke het die munisipaliteit gesukkel om reservoir-vlakke te lig wat dan weer veroorsaak dat die boonste gedeelte van die woonbuurt nie water het nie. Die reservoir is egter nou weer voller.

“Ons het afsetpunte gehad waar water op gegewe tye gehaal kon word en ons het dié gemeenskap bygestaan waar ons kon.”

Volgens inligting deur Standard bekom het hierdie plaas in die laaste paar jaar verskeie kere van eienaar verwissel. Die koerant is onderweg om uit te vind aan wie dit behoort.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article