Kieran Swanepoel is met ‘n gat in sy kop gelaat toe ‘n man hom met ‘n gholfstok geslaan het.Foto: Verskaf


’n Agtjarige seuntjie met Down-sindroom is verlede Donderdag – ’n dag ná sy verjaardag – in wat net as ’n kwaadwillige en sinnelose voorval beskryf kan word, met ’n gholfstok teen die kop geslaan.

Die aanval het ’n gat in sy skedel en bloeding op die brein veroorsaak en hy moes dringend chirurgie ondergaan.

Kieran Swanepoel het soos enige ander oggend van die week in Jasonstraat in Riverview in die Breedevallei-vereniging vir mense met gestremdhede (APD) se bussie geklim op pad na die sentrum toe ’n man hom deur die bussie se venster met die gholfstok geslaan het.

Die voorval het skokgolwe deur APD-geledere gestuur omdat dit nie net sinneloos en wreed was nie, maar ook omdat almal die APD-bussie ken en weet dit vervoer kinders met gestremdhede.

Standard het Kieran en sy ouers, Fabian en Rykie Swanepoel, Vrydag in die Mediclinic Worcester besoek.

Fabian sê almal in ongevalle was verbaas dat Kieran nie gehuil het nie.

Volgens Fabian het hy onmiddellik in sy motor gespring toe hy hoor wat met sy seun gebeur het.

“Ek weet nie wat oor my gekom het nie. Ek het onmiddellik in die kar gespring, ’n byl gegryp en met dit langs my gery om die man te gaan soek wat my seun seergemaak het. Ek dank die Here dat ’n kalmte oor my gekom het,” sê hy.

Fabian sê hy wou die aanvaller seermaak soos hy sy kind seergemaak het. Volgens hom het hy die verdagte binne sowat drie minute in Riverview opgespoor, waar hy – steeds met die gholfstok in die hand – gestap het. Hy het die man gevra hoekom hy sy kind seergemaak het.

“Dit kon soveel erger gewees het; Kieran kon dood gewees het,” sê hy.

Fabian sê dit was ’n kwaadwillige voorval en die aanvaller moet gestraf word.

Henore sê Kieran het nie ná die aanval gehuil nie, maar wel ná die narkose. “Hy sê hy is orraait, maar ’n mens sal mos nie weet hoe hy werklik voel nie,” sê sy. Sy vertel toe sy die nuus hoor, kon sy dit nie glo nie. “Ek is net na sy kamer om sy klere te soek om hospitaal toe te neem.”

Mario Bruintjies, die bestuurder van die APD-bussie, sê hy het omstreeks 08:45 in Jasonstraat gery om kinders op te laai toe hy ’n man met ’n (gholf)stok in die hand in die straat sien staan.

“Ek het gesien daar staan ’n man in die pad met ’n stok, en toe ons nader ry, het hy met die stok na die bussie beduie. Ek het niks daarvan gedink nie, maar toe ek verby hom ry, het hy met die stok na die voertuig geslaan, en dis toe hy Kieran deur die venster raakslaan,” sê Bruintjies.

Die bestuurder verduidelik Kieran het ten tye van die voorval direk agter hom by die venster gesit.

Toe hy sien Kieran is beseer, het hy onmiddellik APD toe gery om Kieran by die hospitaal te kry en sy ouers in te lig.

Volgens Fabian is die verdagte Vrydagoggend deur die polisie vasgetrek, maar summier weer vrygelaat.

Hy sê die verdagte moet boet vir wat hy aan sy onskuldige seun gedoen het. Hy noem ook dat geen polisiebeampte teen Dinsdag nog by hulle was nie en dat hy self na die speurders by die polisiekantoor gegaan het om meer uit te vind oor wat met die ondersoek aan die gang is. ’n Navraag hieroor is aan die polisie gestuur, maar geen antwoord is teen druktyd ontvang nie.. Lees ook die APD se pleidooi op bl. 11.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article