Die soektog na die vermiste Michayl Sederick Plaatjies, wat Sondag 10 September verdwyn het, duur steeds voort.
Die kleuter, wat een jaar en nege maande oud is, het spoorloos verdwyn terwyl hy saam met sy pa was.
“Sy pa het hom by die huis gaan haal. Toe hy by die huis kom, was die kind se ma nie daar nie en hy was saam met sy tannie. My neef het toe vir Sederick gevat en na sy ma gaan soek. Hy het egter langs die pad besef die kind se doek is nat. Hy het toe die doek afgehaal, die kind neergesit en huis toe gehardloop om ’n skoon doek te gaan haal. Toe hy terugkom waar hy sy seun gelos het, was hy nie meer daar nie,” het die kleuter se oom, Wayne Absalon, verlede week aan Standard verduidelik.
’n Groot soektog is van stapel gestuur en is behartig deur gemeenskapslede, die polisie, die honde-eenheid sowel as die brandweer. Die soektog het dae lank geduur, wat verskeie damme en slote in die Agterkliphoogte-gebied, waar die kind verdwyn het, ingesluit het. Die soektog het egter niks opgelewer nie. Selfs gasteplase is genader ingeval werkers of gaste daar dalk van enigiets weet. Die soektog is verlede Woensdag afgelas, maar volgens Absalon het mense Dinsdag weer na die kleuter begin soek.
“Daar was nog geen teken van Sederick nie. Hulle het weer gister (Dinsdag) na hom gesoek, oral waar hulle verlede week gesoek het, en nog ander plekke in die omgewing. Niemand het ook nog met inligting na vore gekom nie.”
Die seuntjie se pa is kort ná sy verdwyning in hegtenis geneem op ’n aanklag van kinderverlating en het reeds in die hof verskyn.
“Ek het nog nie weer met my neef gepraat nie, dus weet ek nie hoe dit met hom gaan nie. Die kind se ma is ook hartseer; ek het haar Saterdag gesien en ek kon sien sy is nie haarself nie.”
Enigeen met inligting oor waar klein Sederick is, kan Worcester se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe by 023 346 5800 kontak.





