Die vier verkenners wat Vrydag hul kentekens ontvang het, is voor (van links) Elanzo Jefta, Keanu Hlazo, Elroy Lekay en Patrick du Preez. Agter (van links) is die twee verkenner-groepleiers Peter Titus en Juhan Baadjies, Theo Botha (brandweerhoof), Mariette Davids (senior brandbestryder) en Sewes Pretorius (adjunk-brandweerhoof). Foto: Enrico Claassen


Vier jong padvinders van die First Worcester Scouts het Vrydag (7 Junie) hul kentekens ontvang nadat hulle ’n brandbestrydingskursus vir juniors suksesvol voltooi het.

Die ander twee seuns wat ook die kursus suksesvol voltooi het, kon egter nie Vrydag se verrigtinge bywoon nie.

Die seuns wat die kentekens ontvang het, is Elanzo Jefta, Keanu Hlazo, Elroy Lekay en Patrick du Preez – almal 14 jaar oud. Hulle is gr. 8-leerders aan Esselenpark Senior Sekondêr en die Hoërskool Breërivier.

Die kursus het oor drie dae gestrek en is by die Worcester-brandweerdiens aangebied.

In die kursus het die verkenners onder meer geleer hoe om te begin om ’n gebou wat aan die brand is, te ontruim, wat om te doen as ’n brand op ’n kampeer- of staptog uitbreek, hoe om ’n kamp op te slaan sodat dit veilig is teen ’n brand, die prosedure wat gevolg moet word wanneer ’n brand aangemeld word en hoe om te help om paniek te voorkom.

Mariette Davids, senior brandbestryder asook brand- en leefstylopvoeder, sê: “Ek kan met eerlikheid sê dit was ’n groot plesier om met hulle te werk. Hulle is gedissiplineerd en het goed saamgewerk.

“Hulle het vrae mooi beantwoord en was uitstekend in hul prakties.”

Theo Botha, brandweerhoof, het die verkenner-leiers bedank vir die tyd wat hulle opoffer om die kinders ’n goeie opvoeding te gee ten einde goeie rolmodelle te wees. Volgens hom sal die brandweer enige tyd inspring om die verkenners te help waar hulle kan.

Peter Titus, verkenner-groepleier, sê Scouting is die wêreld se grootste georganiseerde jeugorganisasie sonder winsoogmerk. Die internasionale hoofkantoor is in Genève.

Hy sê sowat 20 kinders van onder meer die Riverview-woonstelle, Avianpark, Lilly’s Farm en Esselenpark is tans aktief betrokke by First Worcester Scouts.

Volgens Titus word by First Worcester Scouts voortdurend daarna gestreef om kinders verskillende vaardighede te leer en gehalte-aandag te gee.

Titus sê met tegnologie wat al hoe meer gevorderd begin raak het, het jong mense wêreldwyd belangstelling in Verkenners verloor. Ledetalle het dus aansienlik afgeneem.

Volgens hom was daar wêreldwyd ’n 40%-afname in scouting. Selfs in Worcester het die getalle gedaal.

Titus sê kinders van so jonk as ses jaar kan by die Verkenners aansluit. Hulle word tot die ouderdom van 11 en ’n half jaar oud die welpies genoem.

Hy sê die jong span in dié ouderdomsgroep is nie by baie aktiwiteite buite betrokke nie. Volgens hom word hulle basiese vaardighede soos onder meer hoe om te kook, te verf en hoe om ’n vuur te maak, geleer.

“Gewoonlik gaan hulle nie baie uit nie omdat dit gevaarlik is vir hulle daar buite. Ons hou hulle maar in ’n saal.”

Hy sê indien hulle in die veld uitgaan, is daar behoorlike toesig.

Titus sê teen die ouderdom van 11 en ’n half jaar tot 18 jaar word jy as ’n volwaardige verkenner ingeseën.

Hy sê vaardighede wat volwaardige verkenners met hul inseëning moet hê, is onder meer om te weet hoe om sowat ses basiese tou-knope te maak, ’n vuur te maak en ’n tent op te slaan.

Dit word gevolg deur ’n lidmaatskap­vorm wat voltooi moet word. Ledegeld beloop R350 per jaar.

Titus sê sodra jy lid is, kan jy enigiets leer – van perdry tot hoe om onder meer ’n vliegtuig te vlieg, hoe om te swem, sterre en voëls te bestudeer, hengel, fietsry, duik en hoe om vir ’n sekere tyd onder water te bly.

Hy sê by die kampe word kinders onder meer ook geleer hoe om sonder enige toebehore te kook, hoe om ’n maaltyd in ’n skorsie voor te berei, hoe om ’n vis gaar te maak onder ’n vuur onder die grond – toegedraai in koerant­papier. Volgens Titus is daar ’n kurrikulum met spesifieke vereistes waaraan voldoen moet word en is daar spesifieke vaardig­hede wat ’n Verkenner moet hê om sy kenteken te kry.

Diegene wat belangstel om betrokke te raak, kan Titus by 079 396 6623 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article