ROBERTSON – ’n 17-jarige hoërskoolleerder van Robertson het ’n kompetisie gewen en sy prys was ’n netjies pak klere vir sy matriekafskeid.
Athluano Stevens (17), ’n leerder van Langeberg Sekondêre Skool, se ma, Junita London, het hom vir die kompetisie benoem. RSG en 7de Laan het die kompetisie aangebied.
“Ek het maar ’n kans gevat en hom benoem. Ek het nie gewerk nie en ons het net een inkomste gehad. Ek het later al vergeet dat ek hom benoem het. Ek het ook nie eens geweet hy het gewen nie. My suster het my laat weet sy het gehoor hoe hulle dit op die radio aangekondig. Toe ek dit uitvind, was ek so bly. Ek het gehuil van blydskap. Ek het regtig nie gedink hy sal wen nie,” vertel London aan Standard & Gazette.
Stevens, ’n jongman van min woorde, sê hy was net ’n bietjie opgewonde toe sy ma hom daarvan vertel het.
“My ma het vir my gesê sy het my benoem, maar ek het nie juis daaraan gedink nie. Toe sy my die dag sê ek het gewen, was ek ’n bietjie opgewonde. Eintlik was ek baie opgewonde.”
Sy prys was ’n aandpak, ’n strikdas en ’n hemp, en sy uitrusting het hom op sy spesiale aand op 27 September baie goed laat voel.
“Ek het die aand by my matriekafskeid baie spesiaal gevoel.”
’n Plaaslike fotograaf het van sy prys gehoor en besluit hy wil deel wees van Stevens se aand en het aangebied om dié aand op kamera vas te vang.
“Ek het sy storie gehoor en dit het my so aangegryp. Ek het toe aangebied om sy dag te gaan afneem,” het hy op sy Facebook-blad geskryf.
Nou sien Stevens egter net uit na sy eindeksamen en na die toekoms daarna.
“Ek sien uit na die eindeksamen. Ek was ook so ’n paar weke gelede by die Chrysalis Academy en wag om te hoor van hulle.
“Ek wil graag ná skool ’n natuurbewaarder word,” het dié bedeesde jongman gesê.





