Graythan “Apie” Esterhuizen.

Credit: SYSTEM

Die De Doorns-polisie en die plaaslike ambulansdiens is verlede Dinsdag (10 Januarie) om 15:15 na Modderdrift, ’n plaas in De Doorns, ontbied nadat ’n sewejarige seun in die rivier beland het.

Graythan “Apie” Esterhuizen (7) het volgens AO Godfrey Titus van die De Doorns-polisie verdrink.

“[Graythan] het saam met sy vriende gaan swem en na die diep kant gegaan. Sy vriende het blykbaar probeer om sy hand te gryp, maar kon dit nie vasvat nie, en hy het onder die water verdwyn,” het Titus verduidelik.

Die seun se lyk is later gekry en hy is deur noodhulpwerkers op die toneel dood verklaar, het Titus gesê.

Volgens Graythan se ma, Godene Esterhuizen, het haar seun verlede Dinsdagmiddag in die rivier, waar hy af en toe geswem het, afgekoel.

Hy het daardie dag besluit om in die “diep kant” te swem, waar hy toe in ’n maalgat vasgevang is en dit ongelukkig nie oorleef het nie.

“Apie sou volgende Sondag (22 Januarie) sy agtste verjaardag gevier het,” het Godene telefonies aan Worcester Standard gesê.

“Hy was ’n baie behulpsame kind, het altyd mooi geluister en was baie spelerig,” het die trotse ma hartseer gesê.

Grayhtan sou vandeesweek met sy gr. 1-loopbaan aan die Orchard Primêre Skool buite De Doorns begin.

’n Begrafnisdiens word Sondag (22 Januarie) op die Modderdrift-plaas gehou.

Bel Godene vir nog inligting hieroor by 060 677 0913.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article