Orchard Primêr spog met ’n Cravenweek-rugbyspeler – dít nadat die jong man nie regtig voorbereid was vir die proewe nie wat hom ’n plek in die span besorg het.
Adriano Kommando en sewe van sy skoolmaats is lukraak gekies om die skool by rugbyproewe te verteenwoordig en volgens hom het hy nie eens geweet dat die proewe hom na Krugersdorp sou laat reis om in die mees gesogte skolerugbytoernooi te speel nie.
“My insluiting in die span het my selfvertroue ’n hupstoot gegee en my vertroue in my vermoëns herstel,” sê Kommando.
“Alhoewel die reis na die Cravenweek baie eensaam was omdat ek die enigste een van my skool is wat die span gehaal het, het dit my geleer van harde werk en om by die ander spelers se speelstyl aan te pas.”
“My pa het my regtig gemotiveer om my bes in die proewe te doen.”
Kommando het vandag (Donderdag) na Krugersdorp vertrek om die Boland- Cravenweek-span te gaan verteenwoordig en is behoorlik opgewonde.
Met die antwoord op die vraag waarna hy die meeste uitsien vertel hy opgewonde: “Ek wil net op my beste speel met die hoop dat iemand daar buite my talent raaksien.”





