Oyintanda Dunge is vroeër die maand noodlottig gesteek toe hy vriende wou help. Foto:

Credit: SYSTEM

Die pa van die seun wat Sondag 3 September in Robertson noodlottig gesteek is, is nog erg verpletter oor sy kind se dood.

Oyintanda Dunge (15) het op daardie noodlottige dag vroue wat vir ’n saamrygeleentheid gesoek het, gaan help.

“Hy het saam met sy vriende die meisies vir ’n lift gaan help soek. Daar stop toe ’n motor en die mense daarin sê net drie kan saamgaan. My klong en sy tjommies sê toe nee almal moet ’n lift kry. En hulle begin skel toe,” verduidelik Luyanda Dunge, die oorledene se pa.

Een van die insittendes van die voertuig het toe uitgeklim en Oyintanda in die nek gesteek.

“Hy val toe net daar. Sy tjommies het gedink hy is geslaan, maar toe hulle sien hoe die bloed uit die wonde in sy nek loop, toe vra hulle dat die mense met die motor hom ten minste hospitaal toe moet neem.”

Hy verduidelik egter verder dat die insittendes, insluitend die verdagte, van die toneel af gevlug het.

“Een van my kind se vriende het toe ’n foto van die motor geneem net voor die bestuurder weggery het. Hy het toe die verdagte êrens gaan aflaai en toe kom hy weer terug na die toneel en soek toe die een wat die foto geneem het, en toe jaag hulle hom. Hy het oor die pad gehardloop om weg te kom van hulle af, toe maak die bestuurder glo ’n ongeluk.”

Die oorledene se vriend het toe sommer tot by Luyanda-hulle gehardloop om die nuus met hulle te deel.

“Hy het ons kom wakker maak en vertel wat gebeur het. Ek het toe na die toneel gegaan. Toe ek daar aankom, was my seun alreeds weg. Hy sou in Oktober 16 word.”

Dunge se hart is gebroke oor sy seun se ontydige en wrede dood.

“Jô, ek weet nie hoe ek voel nie. Ek huil nie sommer nie, maar daai aand het ek gehuil. My vrou het gesê dis reg dat ek huil, dat ek uiting aan die hartseer moet gee. My vrou is nou nog baie hartseer en praat min, sy huil nog baie.”

Hy voeg by dat Oyintanda ’n saggeaarde seun was wat deur baie gemis sal word.

“Hy het gehou van grappe maak in die huis; hy het ons sommer lekker laat lag. Hy was ook baie liefdevol. As ons op ’n Sondag kerk toe moes gaan, het hy altyd vroeg in ons kamer gekom en gevra watter skoene ek kerk toe gaan aantrek, dan het hy die skoene skoongemaak en gepoets. Hyself het ook daarvan gehou om mooi aan te trek. Hy was ook baie lief vir die jong kinders in Nkqubela en het gereeld saam met hulle in die pad gespeel, dis hoekom die hele Nkqubela gehuil het toe hy dood is.”

’n Verdagte is in verband met die moord op Oyintanda in hegtenis geneem en het al in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article