’n Elfjarige seun van Roodewal in Worcester is ’n held nadat hy sy agtjarige suster Vrydagaand (14 Julie) uit hul brandende informele woning gered het, minute voor dit tot op die grond afgebrand het.
Die Olivier-gesin van Rhodestraat het al hul besittings waaronder persoonlike dokumente – tot hul kinders se skoolklere – in die verwoestende brand verloor.
Die voorval het tydens beurtkrag plaasgevind toe ’n kers vermoedelik omgeval het.
Alhoewel niemand, insluitend die gesin se twee Jack Russell-honde, in die voorval beseer is nie, het die brand egter die lewens van hul twee jong boerboelle, wat in die woning was, geëis.
Met Standard se besoek Saterdag aan die gesin was hulle duidelik nog verslae oor die gru-voorval.
Josephine Olivier (29) sê sy, haar man, Heinrich (29), en hul jaar-en-twee maande oue dogter, Ava, is die aand inderhaas na haar ma in die Roodewal-woonstelle, nadat haar suster haar vroeër gebel en meegedeel het dat hul ma siek geword het.
Hul ander twee kinders Henwill (11) en Jonise (8) het egter tuis gebly.
Heinrich sê toe Henwill van die brand bewus word, het hy Jonise, wat in daardie stadium geslaap het, wakker gemaak, haar aan die hand gevat waarna hulle deur ’n venster na veiligheid gespring het.
Heinrich se tante, Charmaine Makwena (64) wat in die hoofhuis op dieselfde perseel woon, sê die huismense het al geslaap toe hulle hoor hoe iemand buite gil “dit brand, dit brand!”.
Sy sê toe hulle buite kom, sien hulle net vlamme. Volgens haar het haar dogter, Chantall Willemse, die deur van die brandende informele woning oopgetrap terwyl iemand intussen die brandweer ontbied het.
Josephine sê terwyl hulle nog by haar ma in die woonstelle was, het iemand hulle kom roep en gesê hul woning is besig om te brand.
Sy sê toe hulle by hul woning aankom, was dit reeds tot op die grond afgebrand. Volgens Heinrich kon hy na die brand niks slaap nie en was hy die heeltyd in trane.
Die gesin het Vrydagaand by Josephine se ma gaan slaap.
Heinrich sê hulle het die boerboele vroeër aangeskaf omdat daar so “baie skelm aktiwiteite” daar by hulle plaasvind. Volgens hom het hulle altesame elf jaar in die informele woning gebly.
Die egpaar sê hulle sal dit baie waardeer indien enigeen hulle kan help met onder meer boumateriaal.
Diegene wat die gesin behulpsaam kan wees, kan Heinrich bel by 073 941 2063.





