’n Agtjarige seun met outisme het die gemeenskap se hulp nodig om sy droom te verwesenlik.
Justin Harmse is twee weke vroeg gebore en toe hy drie maande oud was, het hy sy eerste epileptiese aanval gekry. Later is aandagafleibaarheid en outisme by hom gediagnoseer.
“Hy is sensories ooraktief, maar al hierdie diagnoses hou hom gewis nie terug nie. Hy vaar uitstekend op skool en is regtig geliefd deur baie,” verduidelik sy ma, Mariëtte Geldenhuys.
Sy groot passie – iets waarin hy baie goed vaar – is redenaars.
“Aan die begin van die jaar het hulle redenaars gedoen as ’n mondeling by die skool. Hy het so goed gevaar dat hy ingeskryf is vir meer kompetisies. By ATKV-redenaars het hy die halfeindstryd gehaal. By die Podiumpret- kompetisie het hy 84,51% in die eindronde behaal.
“Nou is hy gekies by Kansvatter-redenaarskompetisie om op 4 en 5 Oktober aan die eindronde in Pretoria deel te neem.”
Sy meen haar seun laat niks in die lewe hom stuit nie.
“Hy regeer. Almal moet hom ken en hy geniet dit om al die aandag op hom te hê, dus is hy baie tuis tussen die redenaars,” verduidelik sy ma baie trots.
Die gesin het egter hulp nodig om nog van hul uitgawes te dek.
“Ons het alreeds verblyf bespreek en betaal. Ons kort nou nog geld om ons reisonkostes tot in Pretoria en terug huis toe te dek.”
Enigeen wat Justin kan help om sy drome uit te leef, kan Mariëtte by 076 519 1972, of sy pa, Gary Harmse, by 072 114 2525 bel.
Skenkings kan ook deur middel van ’n Backabuddy-blad gestuur word. Besoek backabuddy.co.za en soek vir Justin redenaars.




