Western Cape police confirmed that five bodies were found on the scene and a sixth person died on the way to hospital following a mass shooting in Khayelitsha on Sunday evening.

André Damons

’n Twaalfjarige provinsiale sportman moes die naweek deur snelweg-verkeer hardloop om hulp te soek toe sy pa langs die N1 beroof is.

’n Werknemer van ’n skool in die distrik en sy 12-jarige seun is Sondagmiddag op die N1 aangerand. Wat hierop gevolg het, klink soos iets uit ’n rolprent.

Die man, wat op voorwaarde van anonimiteit met Standard praat, sê hy en sy seun was te voet op pad om by die skool te gaan werk toe hulle twee verdagte mans agter hulle sien aankom.

“Ons het die mans gesien, maar hulle het eers verby ons geloop, toe staan hulle en kyk ’n bietjie rond, maar ons het ons nie aan hulle gesteur nie.”

Toe die seun gou wou stop om water af te slaan, het die twee mans weer verbygeloop terwyl die pa vir die kind gestaan en wag het. “Net toe my seun klaarmaak en ons loop, draai die twee mans om en druk my vas, pluk my rond en druk my in die drade. Een het ’n vuurwapen uitgehaal.”

Met die vuurwapen teen sy bors het hulle die man gedwing om alles wat hy het, aan hulle te gee.

“Hulle sê ‘Give, give everything you have’ en ek dop toe my sakke om, en dis toe hulle my R40 en my selfoon vat.”

Weens skok het die man net daar inmekaargesak. “My seun het alles gesien en paniekbevange geraak. Hy het op die N1 tussen die karre deur na die naaste buurt gehardloop om hulp te kry.”

Die seun het toe familie gaan haal om sy pa te help.

“Ek het ’n goeie vriend van my op die hoofpad gesien en hom voorgekeer. Terwyl hy uitgeklim het, het ek die polisiewa sien aankom en hulle ook voorgekeer.”

Die man het sommer onmiddellik in die polisiewa gespring en saamgery om die twee booswigte te jaag.

“Ons het hulle gehad, maar ek het die polisieman gewaarsku dat hy nie naby moet kom nie, want hulle het ’n vuurwapen.”

Die polisie het twee waarskuwingskote gevuur, waarop een van die rowers platgeval en die ander oor ’n heining gespring en tussen die wingerde verdwyn het.

“Toe die polisieman begin soek na die man wat platgeval het, het ek hom raakgesien.”

Terselfdertyd het die seun saam met mense van die buurt daar aangekom, waarop hulle die rower se sak deurgesoek en die R40 gekry het.

Dié verdagte is in hegtenis geneem. “Ek wil nie hê hy moet uitkom nie, want ek is bang,” sê die slagoffer. “Ek is baie getraumatiseerd. Ek was nog nie weer by die skool nie.”

Sy 12-jarige seun is wel terug skool toe en is tans saam met sy provinsiale sportspan op ’n oefenkamp.

“Ek kan sien my seun probeer sterk wees vir my.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article