WORCESTER – Twee mense is verlede naweek in motorongelukke in die vallei dood.

Die polisie het Sondag 28 Januarie om 21:45 op ’n ongelukstoneel op die Villiersdorppad gereageer.

“Toe die polisie op die toneel aankom, het hulle ’n wit Nissan Livina op sy dak gevind en daar was passasiers met verskeie beserings wat op die pad gelê het. Die polisie het met ’n man gepraat wat hulle ingelig het dat hy die bestuurder is en dat hy flou geword het terwyl hy bestuur het,” sê AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie.

“Volgens ’n vrou wat ’n passasier was, was hulle van Worcester na Strand onderweg. Volgens haar het sy en die ander passasiers geslaap toe sy voel hoe die voertuig van kant tot kant swaai voordat dit gerol het,” sê Jacobs.

Die polisie het nog ’n passasier ’n entjie van die toneel af opgespoor.

“Die polisielede het nog iemand in ’n rioolsloot gevind waar hy op sy rug gelê het. Medici het hom op die toneel dood verklaar,” sê Jacobs.

In ’n afsonderlike voorval is ’n tiener en vier ander Vrydag 26 Januarie beseer in ’n ongeluk op die Aan De Doorns-pad.

Volgens Jacobs was ambulansdienste reeds op die toneel toe die polisie daar opdaag.

“Die polisie het om 20:50 ’n oproep oor die ongeluk gekry. Met hul aankoms op die toneel het die ambulans een man na die hospitaal vervoer. Hy het ’n rib gebreek, asook ander beserings opgedoen en is onmiddellik van die Worcester-hospitaal na Tygerberg oorgeplaas.

“ ’n 17-jarige seun is in die ongeluk oorlede.”

Die motor het volgens Jacobs op sy dak gelê.

“Dit is in hierdie stadium nog onduidelik hoe die ongeluk gebeur het. Daar was ’n ooggetuie op die toneel, maar sy verklaring moet nog geneem word,” het Jacobs vroeër gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article