’n 17-jarige leerder van Worcester Sekondêre Skool sterk tans in die hospitaal aan nadat hy Maandag (21 November) deur ’n mede-leerder met ’n mes gesteek is net nadat die leerders verdaag het.
Clifton Malaba (17), ’n gr. 10-leerder, is al tydens pouse deur ’n mede-leerder genader en afgeknou. Toe die skool egter uitkom, is hy vir dood gelaat nadat hy aangerand en drie keer met ’n mes gesteek is.
AO Vathiswa Jacobs van die Worcester-polisie het die voorval bevestig.
“Malaba is vroeër by die snoepwinkel afgeknou toe een leerder sy R50 gevat het. Malaba het sy geld teruggevra en ’n onderonsie het ontstaan. Toe die skool egter uitkom, is hy in die straat deur een van die leerders oorval, aangerand en drie keer met ’n mes gesteek.”
Die verdagte en ’n vriend het Malaba na bewering “pap geslaan”. Hy is drie keer in die rug gesteek.
’n Familielid, wat saam met Malaba woon, maar verkies om nie by name genoem te word nie, vertel hulle is later as gesin oor die voorval ingelig.
“ ’n Seun het hier by ons woonstel aangekom en gesê ons moet dadelik skool toe gaan; Clifton is met ’n mes gesteek.
“Toe ons by hom kom, was dit net bloed. Hy was pap en baie swak. Hy is dadelik hospitaal toe geneem.”
Die familielid verduidelik ook Malaba loop gereeld onder boelies deur en hulle kan nie verstaan waarom iemand dit aan hom sal doen nie.
“Clifton is ’n baie stil kind. Hy het goeie maniere en verdien nie om dit deur te maak nie. Ons weet wie die kinders (wat hom aangeval het) is. Geregtigheid moet nou geskied.”
Teen druktyd was Malaba nog in die plaaslike hospitaal vir behandeling. Dit blyk een van die meswonde het sy niere aangetas.
Jacobs het verder bygevoeg dat ’n klagte nog aangemeld moet word en het gesê dit sal gedoen word sodra Malaba sterk genoeg is om ’n verklaring af te lê.
“Dit sal binnekort gebeur. Ondersoekbeamptes is reeds besig met die saak.”
Teen druktyd is niemand nog in hegtenis geneem nie.

