Bradley Ruiters, die agsteman van Villagers Montagu, breek weg met die bal terwyl twee Villa-verdedigers op hom afpyl. Sy spanmaat, Emmeric Rayners (agter), draf nader vir ondersteuning. Sesduim het Villa teen die verwagting in naelskraaps met 25-24 in sy agterplaas getroef. Foto: Norman Evertson


WORCESTER – Die Boland- rugbyunie se ligakompetisies het die afgelope Saterdag (2 Maart) in alle erns begin.

In Worcester in die Breë-Langeberg-afdeling het die twee Villagers-spanne, Villagers Worcester, ook bekend as Villa en Villagers Montagu (ook Sesduim genoem) mekaar in hul eerste grootuitdaagbekerligawedstryd op Bolandpark die stryd aangesê.

Bolandpark is tot in sy fondasie geskud toe Sesduim sy veel geroemde teenstander, Villa, teen die verwagting in naelskraaps met 25-24 ore aangesit het.

Van die afskop af het Villa die besoekers uit Montagu onder enorme druk geplaas, maar Sesduim se keerwerk was uitstekend in daardie stadium van die wedstryd. Die tuisspan kon nie deurbreek nie.

Villa het nogtans met ’n suksesvolle strafdoelpoging eerste punte aangeteken om die voortou met 3-0 te neem.

Die wedstryd hierna het in ’n titaniese kragmeting ontwikkel.

Met die aanbreek van rustyd was die tellings gelyk met drie punte elk nadat Sesduim later ook met ’n strafdoel geslaag het.

Toe spel ná die blaaskans hervat is, het die momentum na die besoekers geswaai. Sesduim was in ’n vernietigende bui nadat die spanne asem geskep het. Hy het in ’n kort tydjie drie keer Villa se doellyn oorgesteek.

Slegs een van die drie drieë is egter verdoel, wat die telling tot 20-3 vir die besoekers laat groei het.

Sesduim het egter hierna sy voet van die pedaal af gelig, wat Villa geleentheid gegee het om uit sy middagslapie te ontwaak. Villa het toe met ’n merkwaardige terugvegpoging vorendag gekom.

Hy het die pap lekker dik aangemaak, terwyl die krake in Sesduim se aanvanklike rotsvaste verdediging begin wys het.

Die tuisspan het uit die besoekers se gebrekkige verdediging munt begin slaan en drie verdoelde drieë ingeryg om diep in die wedstryd die voortou met 24-20 te neem.

Sesduim het egter nooit gaan lê nie. Met speeltyd feitlik verstreke, het hy met ’n groot aanslag gekom en die wendrie gaan druk om sy eerste ligawedstryd met ’n bonuspuntsege met 25-24 te beklink.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article