MONTAGU – Sedert die aanvang van die Boland-rugbyunie se ligakompetisies op 2 Maart beleef Villagers Montagu, ook bekend as “Sesduim”, ’n besonder goeie rugbyseisoen in teenstelling met vorige jare.
Hoewel ’n lang pad nog voorlê, is Sesduim ná vier rondes van klipharde rugby een van slegs twee spanne in die Breë-Langebergstreek wat tot dusver met ’n onoorwonne status kan spog.
Die ander span in dié geweste wat nog nie die knie gebuig het nie, is die 2023-Breë-Langebergstreekwenner, Robertson Town.
Sesduim het sy vierde agtereenvolgende sege in vanjaar se Grootuitdaagbekerkompetisie die afgelope Saterdag (23 Maart) behaal toe hy Blue Birds van Bonnievale op die King Edward-sportveld met 34-19 verslaan het.
Voor hierdie kragmeting was Blue Birds ook nog nie aan die verloorkant nie en het naas Robertson tweede op die punteleer in die Breë-Langebergstreek gelê.
Blue Birds was dus vol vertroue oor sy uitstappie na Montagu en het dié ligawedstryd met groot verwagtinge benader.
Blue Birds het die wedstryd vuur en vlam begin, maar ná die eerste skrum was dit gou duidelik dat dit ’n baie lang dag op die veld vir die besoekers sou wees.
Blue Birds het geen teenvoeter vir Sesduim se kragtige skrumwerk en dryfmale gehad nie. Danksy die tuisspan se groot en fisieke voorspelers was die besoekers die meeste van die tyd in trurat.
Ook in die lynstane, waar die tuisspan se Mario Diedericks en Bernard Swarts die kitaar geslaan het, het die besoekers tweede viool gespeel.
Die eerste helfte was wel ’n betreklike gelykopstryd, maar teen rustyd was Sesduim met 12-7 voor.
Ná rustyd het Sesduim sy greep op die wedstryd met ’n strafdoel, ’n strafdrie en ’n onverdoelde drie verstewig en die telling na 27-7 geneem.
Blue Birds het voortdurend ’n opdraandestryd gevoer en moes strykdeur inhaalrugby speel.
Hoewel die skrif vir die besoekers sowat ’n kwartier voor die einde aan die muur was, het Blue Birds botweg geweier om die handdoek in te gooi.
Hy het verbete teruggeveg en weliswaar nog twee drieë aangeteken. Dit was egter te min te laat, aangesien Sesduim intussen sy voorsprong met ’n verdoelde drie verder vergroot en die wedstryd buite bereik van die besoekers geplaas het.
Die uurglas het uiteindelik vir Blue Birds leeggeloop en Sesduim het die wedstryd 34-19 in sy guns beklink.
Vir die tuisspan het Jovaan Hartnick, Bernard Swarts, Bradley Ruiters en Jack van Wyk elk ’n drie gedruk. ’n Strafdrie is ook deur die skeidsregter toegeken.
Lee van Oordt en Liam Pekeur het elk ’n doelskop oorgeklits, terwyl Pekeur ook met ’n strafdoel geslaag het.


