Die plaaslike stadsaal was Sondag (16 April) kant en wal volgepak toe meestal senior burgers van die dorp gekom het om na uithalersoliste en groepe van weleer met die aanbieding van die eerste Golden Footsteps-sangfees te kom luister.
Hierdie inisiatief, onder leiding van die plaaslike raadslid Naomi Nel en met die kundige hulp van Shaheen Bergh, een van Worcester se eie musikante van weleer, was ’n reusesukses en mense praat reeds dat dit gewis ’n jaarlikse instelling moet word. By hierdie geleentheid is ook hulde gebring aan legendariese musici wat nie meer met ons is nie, maar nooit vir hul besonderse bydraes vergeet sal word nie.
Een van die drie seremoniemeesters van die dag (saam met Nel asook Niel Pietersen) was Ronnie Apollis, wat sommer die dag op ’n hoë noot afgeskop het met sy weergawe van die pragtige “Harbour Lights”, net om die atmosfeer elektries te laai. Daarna het die skoolhoof van RK Primêr, Hubert Titus, sy uitsonderlike sangtalent ten toon gestel, waarna kolonel Willis Smith gewys het hy kan nie net skurke jag nie, maar ook gehore met sy Godgegewe talente vermaak.
Die 80-jarige Neville Jones was hierna aan die beurt met sy nabootsing van Elvis Presley-liedjies en -passies – tot groot vermaak van die waarderende gehoor.
Die bekende Cedric Andrews het ook reg laat geskied aan die idee dat Worcester oor die jare ’n magdom talentvolle kunstenaars opgelewer het.
Die pragtige Alicia en Merlize Sauls saam met die jong Keelan Aplon het met hul weergawe van “Click to Click” asook “Silly things (I love you)” Worcester se magdom talente verder onderstreep. Die legendariese orkeslid Danny Apollis van Danny’s Rhythm Combo’s en sy seun Josh het die skare hierna met instrumentale nommers vergas voordat die immergroen Tommy Peters met sy “Peace in the Valley” en “I Believe” gewys het hoewel hy ook al 80 jaar oud is, hy nie vir die jongklomp hoef terug te staan nie.
Hierna het Charles Baxter, die bekende musikant van die destydse Green Apple, die gaste saam met Donnie Fortuin met hul musiektalente vergas, waarna Hanelize Joseph met “What a wonderful world” en “Thank you for the music” gewys het musiek sal nooit in Worcester uitsterf nie.
Lanzo Apollis het hierna ook ’n item op die saksofoon gelewer, waarna hy ’n sangitem aan sy oupa Matthewe Apollis, wat destyds lid van die bekende Restless Children was, opgedra het. Ná ’n instrumentale bydrae deur die Truden-orkes het nog ’n lid van die destydse Restless Children, Greg Smith (wat deesdae in Genadendal woon), en sy neef Freddie die waarderende skare met hul uitsonderlike talent vermaak.
Om alles te kroon is die middag afgesluit met die optrede van Deon Kleinhans, die voorsanger van die destydse Restless, met nommers soos “I’ve been in love so many times”, “Fall in love”, “If I stay a little longer” en “Until tomorrow”, saam met Greg Smith. Om alles te kroon, was Floris Brown, een van die legendariese musikante van destyds asook lid van die groep, in ’n rolstoel by om dit alles gade te slaan. . Naomi Nel, die raadslid belas met bejaardesorg, kinders en mense met gestremdhede, kan by 076 296 2285 gekontak word indien u deel wil wees van hul beplanning vorentoe.





