Die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, David Maynier, waarsku matrikulante weer dat selfone nie welkom is in eksamenlokale nie – en “krip”-notas nog minder.

“Ons is nog nie halfpad deur die 2022- Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen (NSS) nie, en ons het reeds 14 verslae ontvang van kandidate wat na bewering selfone of notas in hul eksamenlokale ingebring het. Dit toon duidelik dat ons moniteringsprosesse werk en dat ons opsieners goed opgelei is om die gedrag van kandidate tydens die eksamen fyn dop te hou.

“Kandidate kan nie daarop aanspraak maak dat hulle onbewus is van die reëls nie, aangesien hulle verplig was om ’n verbintenisooreenkoms voor die begin van die eksamensessie te onderteken, waarin die reëls van die eksamen en die gevolge daarvan om uitgevang te word, uiteengesit is.”

Hy sê dit is belangrik dat matrikulante seker maak hulle het geen notas of selfone in hul besit voordat hulle die eksamenlokaal binnegaan nie, want om te sê hulle het daarvan “vergeet” as hulle daarmee betrap word, sal nie geduld word nie.

“Hoewel ons tot dusver geen aangemelde voorvalle van uitgelekte eksamenvraestelle ontvang het nie, herinner ons leerders dat hulle enige inligting wat hulle oor vermoedelike uitgelekte vraestelle ontvang, summier moet aanmeld.”

Dit is ook in die verbintenisooreenkoms gedek.

“Dit is belangrik om te beklemtoon om by uitgelekte eksamenvraestelle betrokke te wees, gevolge vir ander leerders wat nie gekul het nie, kan inhou aangesien hulle dalk die vraestel sonder hul eie skuld sal moet herskryf,” voeg Maynier by.

Hy het ook gevra enige matrikulant wat sukkel om die druk van die eksamen te hanteer, met ’n onderwyser moet praat of om Veilige Skole by 0800 45 46 47 (tolvry) te bel.

Die Wes-Kaapse Onderwys­departement (WKOD) het ook verskeie eksamen-ondersteuningshulpbronne op sy e-portaal beskikbaar gestel.

Dit sluit in hersieningsgidse, telematiese video’s, nasiengidse en studiewenke.

Al die hulpbronne is by die volgende webskakel beskikbaar: https://wcedeportal.co.za/resources-to-support-grade-12-learning-and-teaching.

Die rooster vir die volgende week is:. Maandag 21 November – lewenswetenskappe (vraestel 2);. Dinsdag 22 November – geografie (vraestel 2);. Woensdag 23 November – isiXhosa (vraestel 2) en besigheidstudies (vraestel 1);. Donderdag 24 November – Afrikaans (vraestel 2) en toerisme;. Vrydag 25 November – rekeningkunde (vraestel 2).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article