Martin Vos se vermeende moordenaar is meer as ’n maand ná sy dood in hegtenis geneem.

Credit: SYSTEM

’n Werknemer van ’n man wat in Mei vanjaar in Montagu vermoor is, is uiteindelik in hegtenis geneem.

Martin Vos (56) is op 4 Mei deur sy vrou en skoonma dood aangetref. Vos was die eienaar van ’n mikroleningsbesigheid op die dorp.

Toe Standard vroeër vanjaar by die Montagu-polisie navraag gedoen het, het hulle gesê die saak word as ’n selfdood hanteer. Hulle het egter verlede week ’n inhegtenisneming bevestig.

“Ons het ook maar gehoor iemand is weens my pa se moord in hegtenis geneem. Ons het glad nie vermoed dat dit ’n werknemer sou wees nie,” het Martin Vos se seun, Paul, gesê.

Hy het voorts gesê die persoon het net nooit ná die moord en begrafnis teruggekeer werk toe nie.

“Hy het net nooit teruggegaan nie. Selfs sy vrou was by die werk en wou weet wat met haar man aangaan omdat hy glo vreemd opgetree het. My ouma moes hom toe later op die regte manier afdank en ’n afdankingsbrief is later aan hom gegee.”

Vos sê hulle het van die begin af geweet sy pa is vermoor en het nie weens selfdood gesterf nie.

“As dit selfdood was, sou daar ’n vuurwapen by my pa op die toneel gelê het. Geen vuurwapen is naby hom gevind nie.”

Die polisie het egter nie veel uitgebrei oor die toneel in hul antwoord op Standard se navraag nie.

Die Montagu-polisie se woordvoerder, sers. Suria Meyer, het gesê Martin Vos se lyk is omstreeks 16:00 naby die Turtle-draai in Montagu gekry.

Volgens Paul was sy pa ’n ware mense-mens en kon nie stilsit nie.

“Hy het ’n goeie hart gehad en wou almal altyd help. Hy was ook ’n baie fikse mens en het elke dag geoefen of saam met die honde gaan stap. Hy was ook ’n kranige fietsryer en het die meeste naweke saam met my ma gery.”

Hy sê dit gaan tans goed met sy ma, Reanda.

“Sy vaar goed in die omstandighede. En ek en my broer is hier vir haar wanneer sy iets nodig het.”

Die 49-jarige verdagte is op 9 Junie op borgtog vrygelaat en moet op 20 September weer in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article