Die Worcester- Sentrale-Verbeteringsdistrik (WSV) het in samewerking met belangrike vennote – die polisie, APL Cartons, die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) en die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) – vanjaar ’n aansienlike belegging gemaak om ses sekuriteitskiosks op te knap, oor te verf, met nuwe handelsmerke te versier en by kernpunte in Worcester te plaas.
Die reaksie van die publiek op dié belegging in sekuriteit was tot dusver oorweldigend positief.
Van die patrolliepersoneel wat hierdie kiosks beman en in die sentrale sakekern van Worcester diens doen, asook WSV se onderhoudspan, van WSV se direkteure en lede van die publiek, onder andere direkteure en raadslede van die BVM, het die bekendstelling van die kiosks op Kerkplein die afgelope Vrydag (11 Oktober) bygewoon.
Antoinette Steyn, die BVM-burgemeester, en Retha Alberts, voorsitter van WSV, het die seremonie bygewoon en die lint formeel geknip.
Alberts het almal teenwoordig hartlik bedank vir hul samewerking om van die sakekern ’n veiliger en beter plek te maak om in te woon en te werk en dit vir potensiële beleggers makliker maak om ’n belegging in die dorp te doen.
Lede van die publiek word gevra om uit te kyk vir die sekuriteitskiosks en hul personeel wat ook gereeld na strategiese punte in die dorp rondgeskuif sal word.
WSV werk ook nou saam met Worcester Toerisme om inligting en kaarte van Worcester, asook ander inligting, by hierdie kiosks beskikbaar te stel.





