Die seksklag teen BO-raadslid Colin Wilskut is op Vrydag 11 November in die hof voorlopig teruggetrek.

Credit: SYSTEM

Die klagtes van seksuele teistering teen die Breedevallei Onafhanklik (BO)-raadslid, Colin Wilskut, is op Vrydag 11 November in die plaaslike hof teruggetrek.

Standard het in Julie 2019 berig dat Wilskut deur verskeie vroue van seksuele aanranding beskuldig word en toe op drie aanklagte tereggestaan het.

Die bewerings is eers in ’n poniekoerant gepubliseer waarna die BO die aantygings deur middel van ’n persverklaring aan Standard en ’n openbare Facebook-plasing ontken het.

Luidens die persverklaring is die bewerings teen Wilskut pogings deur ’n geskorste lid om onmin in die party te saai.

Volgens die klagstaat is beweer dat Wilskut twee vroue in verskeie voorvalle tussen 2016 en 2018 seksueel aangerand het deur hulle te betas en onwelvoeglike voorstelle aan hulle te maak.

Een van die vroue het destyds openhartig met Standard oor verskeie voorvalle gepraat wat gebeur het toe sy in die party se werwingskomitee gedien het.

“Hy het misbruik van sy gesag gemaak en as jy ’n vrou was wat saam met hom moes werk, was jy nie veilig nie,” het sy beweer.

Sy het ook in detail verduidelik hoe hy haar na bewering by meer as een geleentheid betas het.

Luidens die klagstaat het Wilskut sonder toestemming sy hand onder haar klere geplaas en haar betas.

Gebeure het egter ’n heel ander wending ingeslaan toe die saak verlede week voorlopig teruggetrek is.

Standard het probeer uitreik na die klaers, maar alle pogings was teen druktyd nog onsuksesvol.

“Persoonlik voel ek verlig, maar my reputasie is alreeds deur hierdie bewerings geskend,” het Wilskut aan Standard gesê.

“Hierdie uitspraak is nie ’n verassing nie en het ek dit verwag, aangesien daar in die eerste plek geen basis was vir hierdie klagtes nie.

“Ek het altyd die standpunt gehuldig dat hierdie saak polities gemotiveerd was om karakter-sluipmoord te pleeg, asook om ons party, die Breedevallei Onafhanklik (BO), in die openbaar te diskrediteer.

“Hierdie misbruik van die regstelsel deur klaers wat so maklik valse bewerings maak en toegelaat word om soveel skade aan families en jy as mens te doen, is onregverdig en onbillik,” sê hy.

“Ek wil graag ook dankie sê aan ons ondersteuners en diegene wat ons ondersteun en saam met ons bou,” het Wilskut bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article