Chester Fisch, ’n seisoenwerker van Wolseley, het as wenner weggestap. Foto’s: Agri’s Got Talent


Dit was ’n aand van glans en glorie toe tien plaaswerkers die plaas agtergelaat het om die verhoog te betree in vanjaar se Agri’s Got Talent-kompetisie, wat Vrydagaand (11 Oktober) op die plaas Dawn Mountains buite Simondium gehou is.

Die 10 finaliste van plase oor die land heen en wat elkeen ’n ander posisie beklee, het die beoordelaars behoorlik laat kopkrap om ’n wenner te kies.

Maar, dit was Chester Fisch, ’n seisoenwerker in die wynbedryf by Mountain Ridge, Wolseley, wat uiteindelik die beoordelaars en gehoor se harte met sy buitengewone vokale vermoëns en veelsydigheid wat hy na die kompetisie en verhoog gebring het, verower het.

Hy het sy dansvaardighede met die bekende Michael Jackson-treffer “The Way You Make Me Feel” gewys, terwyl sy tweede liedjie, die polities geïnspireerde “A Change is Gonna Come” deur Sam Cooke (1964), nie meer gepas kon wees om tot die hart en siel van Suid-Afrika se landbougemeenskap te spreek nie.

Fisch het vroeër in ’n onderhoud met Food for Mzansi gesê hy glo in die toekoms van landbou “omdat die wêreld daarop gebou is, en die wêreld kan nie daarsonder oorleef nie”.

“Mense moet eet en daarom is boerdery belangrik. Ek wil bydra tot die bevordering van landbou – veral onder die jeug.”

Buiten vir wynmaak, is Fisch ewe passievol oor musiek.

Deur AGT 2024 te wen, hoop hy om sy musiekloopbaan te bevorder en wil hy jong kunstenaars help om hul talent te laat groei en te ontwikkel.

Fisch is deur sy lewensmaat, Felicity, aangemoedig om vir AGT in te skryf. Hoewel gospel as genre sy eerste liefde is, blink hy ook in R&B en pop uit.

“Ek is veelsydig en wil graag op alle gebiede groei wanneer dit by musiek kom.”

Vir Fisch het deelname aan AGT nie daaroor gegaan om te wen nie, maar om as kunstenaar te leer en te groei.

“In kompetisies is daar nie wenners of verloorders nie. Ons is almal leerders,” het hy gesê.

Chantel Boonzaaier van DGB (Bpk.) Franschhoek het die tweede plek behaal, en Sandile Mathebula van Macdaring Farm in Bombela was derde.

Die AGT-beoordelaars het gesê die 2024-kompetisie was die moeilikste nog met ’n baie klein punteverskil wat die eerste drie deelnemers geskei het.

Lungelo Sithole van KMI Boerdery in Bombela het die prys vir die beste sanger in ’n inheemse taal, toegeken deur die Afrikaanse Taalraad (ATR), gewen. Haar weergawe van Zahara se emosionele “Xa bendingena Mama” was ’n ongeëwenaarde kragvertoning.

Die lirieke, in Xhosa, is ’n huldeblyk aan Zahara se ma wat oorlede is. Dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR, het gesê AGT is ’n unieke projek wat mense uit die landbousektor ’n kans gee om in hul moedertaal te sing. “In Suid-Afrika het ons verskeie inheemse tale om op trots te wees, en Afrikaans is een daarvan. Ons dra ons taal deur sang aan ons kinders oor. Dit gaan nie net oor Afrikaans nie; dit gaan daaroor om die kunste in die moedertaal aan te moedig en te ondersteun.”

Sedert 2014 ontvang die top-10-finaliste sanglesse by die bekroonde kunstenaar Freda van den Heever in die week in die aanloop tot die spoggerige galageleent­heid. Sy het Vrydagaand gesê sy vra haarself elke jaar die vraag waar ’n mens nog talent kan gaan kry, maar hierdie jaar se deelnemers het weer eens die verwagtinge oortref.

“Ek kon nie glo dat daar weer soveel talent is nie. Hierdie jaar is die kompetisie ongelooflik. Ek wil nie vanjaar ’n beoordelaar wees nie.

“Hoe beoordeel jy ’n operasanger teenoor ’n rapper teenoor ’n power house en elkeen bring sy eie stem?”

Thea van Zyl, Agri’s Got Talent se projekkoördineerder, het gesê die projek is meer as net ’n sangkompetisie – dit gaan ook oor vaardigheidsontwikkeling . . . vaardighede wat die deelnemers terugneem na hul huise, plase en gemeenskappe.

“Dit gaan daaroor om brûe te bou en talentvolle landbouwerkers te inspireer om hul drome na te jaag. Landbouwer­kers is die ruggraat van die vrugte- en wynbedryf, die onbesonge helde, en AGT gee hulle ’n platform om gehoor te word.”

AGT is in 2013 deur Hortgro, die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryfsorganisasie, begin. Vanjaar was die 11de jaar van die projek wat deur Hortgro, die Sitruskwekersvereniging, die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf, SA Wyn en die Wes-Kaapse departement van landbou geborg word. Die projek word ook deur FruitFly Africa, BerriesZA en Culdevco ondersteun.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article