Teenstanders van die beplande seismiese toetse by die Wes-Kaapse hooggeregshof.Foto: The Green Connection


Die interdik wat seismiese opnames aan die Weskus verhoed, bly in plek.

Dit was die uitspraak van regter Daniel Thulare Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof.

Teenstanders van Seismic Searcher se planne om seismiese opnames vir olie en gas in Weskus-waters te doen, het verlede Donderdag in die hof saamgedrom. Plaaslike vissers en Green Connection, ’n organisasie wat hulle beywer vir omgewingskwessies, het hul argumente gestel om die beplande opnames stop te sit. Hulle voer aan die opnames sal ’n negatiewe impak op vis- en seelewe aan die Weskus hê wat weer hul lewensbestaan in gedrang sal bring.

Die hof het reeds ’n dringende interdik op 7 Februarie toegestaan wat Searcher gekeer het om voort te gaan met die opnames wat in Januarie begin het. Searcher het op hul beurt op Maandag 14 Februarie ’n interdik voor die hof gebring om die interim interdik wat hul opnames keer, teen te staan.

Thulare het dit egter Dinsdag duidelik gemaak die interdik sal in plek bly aangesien daar verskeie interne appèlle teen Searcher se planne van stapel gestuur is. Thulare voer aan indien die beplande opnames voortgaan tydens die minister se oorweging van die appèl sou “skade” reeds, weens die opnames, plaasgevind het.

Kleinskaalse vissers meen Searcher se permit, wat laat 2021 toegestaan is, is ongeldig omdat die nodige prosedures nie gevolg is om dit te bekom nie. ’n Gebrek aan kommunikasie met belanghebbendes is veral deur die teenstanders uitgelig.

“Dit is regtig goed om vandag die reg in aksie te sien. Ons advokaat het ons saak sterk gestel en gewys die gemeenskappe is nie sinvol geraadpleeg nie,” het Liziwe McDaid, Green Connection se strategiese leier, verlede week gesê.

Green Connection het aangevoer die Australiese maatskappy het nie die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne gevolg nie, hoewel dit deur omgewingsmagtiging vereis word.

Volgens Naseegh Jaffer, direkteur van die vissersregte-organisasie Masifundise, is dit duidelik inkomste is Searcher se groot dryfveer vir die toetse ten spyte van kommer oor die ekologiese gevolge en die effek wat dit op vissers se voortbestaan kan hê. “Die konstante klem op verlies aan inkomste as gevolg van die staking van hul skietwerkaktiwiteite het ’n taamlik grimmige prentjie geskets vir gemeenskappe wie se lewe afhanklik is van natuurlike hulpbronne van die see,” meen Jaffer.

Volgens Green Connection was Dinsdag se hofuitspraak ’n voorbeeld van hoe belangrik openbare deelname in kwessies is. “Baie geluk aan kleinskaalse vissers en die burgerlike samelewing wat vir die beskerming van oseane veg,” het hulle laat hoor.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article