’n Stukkie geskiedenis is Saterdag 3 September in die duiwesport-annale herskryf toe ‘n kleinkind van een van Worcester se duiwewedvlug-legendes ‘n trofee wat ter ere van hom ingestel is, gewen het.
Die bekende sakeman en wedvlug-legende Danny Le Grange was veral regoor die Boland bekend vir sy uitsonderlike wedvlug-prestasies, veral oor langer afstande.
Hy is egter in November 2016 oorlede. Om sy nalatenskap te vier, het sy twee dogters Lynn Le Grange en Yumna America ’n wisseltrofee geskenk om veral sy langafstand-prestasies te vier.
Daar is egter besluit dat slegs twee van die oudste aktiewe klubs in die dorp, WRPC en WHRC se lede om die trofee sou meeding.
Verlede jaar het die pa-en-seun-kombinasie Jeftha Loffs met die louere weggestap.
Vanjaar is die geskiedenis egter herskryf toe wyle Le Grange se kleinseun, Anver Sedan, die trofee gewen het. Boonop het hy sommer ook die tweede plek syne gemaak.
Om verder kleur aan die prestasie te verleen, was sy wenduif ’n direkte afstammeling van ’n duif van sy oupa. Dié duif het vir vyf jaar agtereenvolgens die Johannesburg Ope gewen.
Sedan het ook in die Worcester-federasie sy stem dik gemaak deur ook die tweede en derde plekke oor dieselfde afstand te behaal, terwyl hy in die Suid-streek van die Noord-Boland-posduifunie ’n verdienstelike sesde en sewende plek losgevlieg het.
Die streek verstaan uit klubs van Villiersdorp, Ceres, De Doorns en Worcester.





