Die Worcester Marching Band het Vrydag die Sean Kelly-sentrum vir sensories gestremde kinders se feesvierende staptog deur die dorp gelei. Agter hulle kom die personeellede met van die kinders aangestap. Foto: Tamsyn Jantjies


Die Sean Kelly-sentrum vir sensories gestremde kinders het Vrydag (19 April) sy 20ste bestaansjaar gevier.

Die sentrum se dagsorg is in 2004 deur Sean Kelly se ouers begin.

“Hulle het Worcester toe getrek met hul Doofblind-seuntjie en gedink hier gaan baie plekke wees om hom te help. Maar hier was nie en hulle het besluit om ’n projek te begin waar kinders soos hy terapie by ’n multidissiplinêre span kon kry. Hulle het in 2002 hier aangekom en die sentrum is in 2004 geopen, met net vier kinders en baie min meubels,” vertel Nicky Labuschagne, die bestuurder van die Sean Kelly- vereniging vir kinders met sensoriese gestremdhede.

Labuschagne is sedert die begin by die sentrum betrokke en het as administrateur hier begin werk.

“My hart is vandag vol van die Here se versorging vir ons,” sê sy.

Sean Kelly is drie weke ná die sentrum se opening oorlede, maar die sentrum het voortgegaan om die gemeenskap te dien.

“Dit is Sean se legacy en ons gaan voort daarmee om kinders se lewensgehalte te verbeter.”

Baie jare nadat die dagsorgsentrum in Waterloo begin is, is die kinder- en jeugsorgsentrum in Kerkstraat geopen om kinders wat nie by die huis kon bly nie, te huisves. Tans woon hier 15 kinders. Dit sluit in kinders van reg oor die Wes-Kaap wie se ouers nie behoorlik by die huis ingerig is om na hulle om te sien nie, of kinders uit moeilike omstandighede.

Die Sean Kelly-vereniging vir kinders met sensoriese gestremdhede voorsien sorg aan kinders met matige tot ernstige ontwikkelings­gestremdhede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article