Inwoners van die Langeberg wat hul goue Sassa-kaarte moet omruil vir die nuwe swart Postbankkaarte, moet tans ver reis om dit te doen.

Die Langeberg-munisipaliteit het inwoners in kennis gestel dat daar in hierdie stadium nie ’n plek in die munisipaliteit is waar inwoners kaarte kan ruil nie en dat hul naaste Sassa-punt wat swart kaarte gee, die Shoprite in Durbanstraat, Worcester, is. Dié punt is oop van 08:00 tot 17:00.

Volgens die munisipaliteit is Sassa besig om na ’n lokaal in Robertson te soek.

Vir baie Sassa-begunstigdes is hierdie slegte nuus omdat talle oud of verswak is. Die lang wag in rye is reeds ’n uitdaging, maar bykomende reistyd en -kostes bemoeilik die situasie verder.

Alle Sassa-begunstigdes moet hul goue Postbankkaarte inruil vir die nuwe swart kaarte, of alternatiewelik omskakel na ’n bankbetaling, voor 20 Maart. Ná hierdie datum sal die goue kaarte nie meer geldig wees nie. Mense wat nie betyds hul kaarte omruil nie, sal nie kan geld trek of na hul balans kyk nie. Hulle sal nie hul maandelikse toelaag ontvang nie.

Diegene wat wil omskakel na ’n bankbetaling moet ’n bewys van hul eie bankrekening, ’n afskrif van hul identiteitsdokument en die twee toestemmingsvorms (beskikbaar op www.­lange­berg.­gov.za) wat ingevul is, voor 20 Maart by een van die volgende Sassa-kontakpunte indien: Robertson Thusong-sentrum op die hoek van Wesley- en Paddystraat, Panorama) van Maandae tot Vrydae; Barnard-saal in Ashton op Maandae 3, 10 en 14 Maart; McGregor-gemeenskapsaal op Dinsdag 4 Maart; Happy Valley-gemeenskapsaal in Bonnievale op Woensdae op 5, 12, 19 en 26 Maart en Wilhelm Thys-gemeenskapsaal in Montagu op Donderdae 6, 13, 20 en 27 Maart.

Begunstigdes wat voorheen vir ’n toelaag in ’n ander streek aansoek gedoen het, se aansoek sal hersien moet word omdat die nuwe streek nie toegang tot hul vorige rekords het nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article