Werkers van Sars betoog in hul etenstyd voor Sars se kantoor om hul misnoeë oor hul verhoging uit te spreek.Foto’s: Dominique Jeftha


Werkers van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens in Worcester het Dinsdag 24 Mei voor die kantoor gestaak en hul misnoeë uitgespreek oor ’n voorgestelde 0%-salaris­verhoging.

Lede van die unie Nehawu het ná die jaarlikse salarisonderhandelings – wat op ’n dooie punt uitgeloop het – die werkgewer na die CCMA verwys om moontlike bemiddeling te bewerkstellig.

Die Boland-Overberg-streek se Nehawu-sekretaris, Lionel Saunders, sê ná die onsuksesvolle mediasie-proses is daar ’n staak-sertifikaat uitgereik.

Hy sê Sars het met ’n salaris­verhoging­voorstel van 0% na die onderhandelingstafel gekom, wat “onmiddellik deur die unie verwerp is met die minagting wat dit verdien”.

“Nehawu hou amptelik sy betoging in etenstye om werkers se ontevredenheid aan die gemeenskap te kenne te gee. Sars het hierdie jaar sy invorderings­doelwit met byna R20 miljoen oorskry en dit was dus onverstaanbaar dat daar skielik geen geld is om werkers te vergoed vir hul harde werk nie. Die verhogingsaanbod van 0% is ’n klap in die gesig vir die harde werk wat deur die werkers in die belastingjaar gelewer is,” verduidelik Saunders.

Die etenstydbetoging sou gister (25 Mei) ’n hoogtepunt bereik het wanneer die nasionale staking deur Nehawu uitgeroep is om die “werkgewer tot ander insigte te bring”.

Die unie het gesê hy gaan die hele sektor landwyd verlam, wat Sars se vermoë om geld in te win lelik sal kortwiek. Landwyd kan dit ’n finansieringskrisis veroorsaak.

“Nehawu is onwrikbaar in sy strewe om hul werkers se belange te beskerm, sowel as om die reg op kollektiewe bedinging op die werkgewers af te dwing aangesien werkgewers hul verantwoordelikheid om werkers reg vir hul arbeid te vergoed, wil ontduik.”

Volgens Saunders sal werkers niks op ’n skinkbord van die werkgewer ontvang nie weens die ongekende vlaag van korrupsie in die land.

“Werkers sal vir elke sent wat hulle verdien in die strate moet veg, in al die sektore – soos die private sektor sowel as die staatsdiens – waar Nehawu werkers organiseer.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article