Een van die plaaslike dierewelsynsorganisasies, Sandy’s Eden, het die afgelope naweek ’n bewusmakingsveldtog in verskeie dele van die gemeenskap gehou.
Sandy’s Eden-werkers het saam met die plaaslike polisie-speurtak en ander vrywilligers in die vallei bewusmaking geskep.
Hierdie organisasie sonder winsoogmerk sê hy red diere vir die uitkomste en nie die inkomste nie.
“Dit beteken ons wil saam met die gemeenskap werk om hulle te leer hoe om na hul diere om te sien. Ons weet baie kan nie vir die diens betaal nie, maar dit gaan nie vir ons daaroor nie – dit gaan oor ’n beter lewe en toekoms vir ons gemeenskap se diere,” sê Juenieta Everson, die eienaar van die organisasie.
Sandy’s Eden het Saterdag (20 Augustus) baie mense ontmoet wat hulp nodig het en net nie geweet het waar om te vra nie.
“Hulle is nie slegte eienaars nie en is baie lief vir hul diere. Dis nie altyd nodig om die diere weg te neem nie. Dit is veel beter om hulle te wys en die nodige kennis te gee.
“Dit was ook vreeslik lekker om so baie honde in goeie versorgde toestande te sien. Baie se oë het sommer opgehelder as ons hulle komplimente gegee het.”
Sandy’s Eden probeer jaarliks om ’n uitreik te doen na dele in die gemeenskap wat hulp benodig. Dit stel die organisasie in staat om ’n band van vertroue met die gemeenskap te skep. Dit wys hulle wie om vir hulp te vra – sonder vooroordeel.
Juenieta glo meer diere kan gehelp word as die gemeenskap help.
“Een mens kan nie oral wees nie, maar ons kan oë oral hê. Ons het baie kontaknommers gekry van mense wat graag hul diere wil laat steriliseer, maar nie die geld het nie, en mense wat hulp vra vir vlooi-behandeling, of watter kos om hul diere te gee. Kinders is gewys hoe om ’n hond vas te hou en reg op te tel. Dit alles maak ’n verskil,” voeg sy by.
Sy sê sy is dankbaar vir die ondersteuning van die plaaslike polisie.
“Daarmee saam is dit ook vir ons belangrik om saam met die polisie sulke uitreike te doen, want dit maak die kinders veral gemakliker om ook om hulp te vra. Ons wil graag saam werk, want om teen mekaar te werk, gaan nie meer diere of mense help nie.”




