Die sakereuse Johann Rupert en Patrice Motsepe het verlede week ’n aandeel van 74% in die Boland Rugbyunie bekom.
Hul konsortium – wat ook ’n 74%-aandeel in die Blou Bulle besit – se aanbod is sopas deur Boland se klubs goedgekeur. Die nodige goedkeuring van SA Rugby en ander belanghebbendes moet nou gegee word. Die bedrag waarteen die aandeel bekom is, is nie bekend nie. Dit beteken nou dat Boland die eerste nie-franchise in die land is met ’n private meerderheidsaandeelhouer. Selfs hul “grootboet-provinsie”, die Westelike Provinsie, is nog sonder ’n ekwiteitsvenoot.
Die Boland het 216 klubs – die meeste van enige unie ter wêreld, en sit met enorme talent. Die nuwe beleggers wil hulle in ’n grote van SA rugby ontwikkel. Boland het immers die eindstryd van die Curriebeker-reeks se Eerste Liga teen die Valke gewen.
“My voorsitter, Johann Rupert, het sy oog al ’n hele ruk lank op die Boland,” het Remgro se uitvoerende hoof, Jannie Durand, aan Rapport gese.
Terwyl Remgro voorheen ’n aandeelhouer by die WP was, was daar geen kans dat hulle weer ’n ekwiteitsbelegging daar sou aangaan nie. Veral nie ná die behandeling wat hulle van die destydse WP-bestuur onder Zelt Marais gekry het nie.
Durand beskou die konsortium se belegging as ’n manier om die ganse Boland-omgewing te ontwikkel en nuwe rolmodelle te kweek.
“Boland is waar ons bly. As jy gaan kyk na ons geskiedenis, en waar ons begin het . . . Ons het Stellenbosch Football Club (SFC) begin.
“My voorsitter het gedink dis ’n ongelooflike idee. Ons het gedink ons sal vir vyf jaar in die eerste liga speel, maar binne ’n jaar was ons in die Premierliga.
“Twee van ons spelers is vanoggend vir die eerste keer gekies om vir Bafana Bafana te speel.”
Durand sê hulle is vasbeslote om ’n soortgelyke impak in Boland Rugby te maak. “Wat ons (Boland Rugby) besef, is dat ons nie ’n gesiglose maatskappy is nie. Daar is geskiedenis en familie en lojaliteit – dit is baie belangrik vir ons en ek dink hulle besef dit.
“Ons doelwit is om hulle oor die volgende paar jaar in die Premierliga van die Curriebeker te kry.”
Boland sê in ’n verklaring hulle is “verheug” oor dié verwikkeling.
Amptelik sal die belegging tussen Boland, Motsepe en die Stellenbosch Akademie vir Sport, ’n filiaal van Remgro Beperk, bestaan.
Bennie van Rooi, die president van Boland Rugby, is in die wolke oor die belegging.
“Die ooreenkoms met sulke hoëgehalte-vennote wat dieselfde waardes deel, wat ook uit die Boland kom, is opwindend vir die unie.
“Ons en ons nuwe vennote is daartoe verbind om te verseker dat die professionele en amateur-vleuels van Boland Rugby in lyn is met dieselfde ideale en doelwitte,” sê Van Rooi.
“Ons sien baie uit na hierdie opwindende potensiële nuwe hoofstuk in die trotse geskiedenis van die Boland en ons glo opreg dat hierdie vennootskap revolusionêr sal wees vir die rugbymense van hierdie wonderlike streek.”




