MONTAGU – ’n Bekende sakeman, sy seun en ’n kennis het voorverlede Dinsdag (13 Augustus) in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met oortredings van die Wet op Beheer van Vuurwapens.

Pieter Gideon Conradie (60), eienaar van ’n onderneming op die dorp, sy seun Jacobus (33), beter bekend as Kosie, en Christopher Prinsloo (45), ’n kennis van die Conradies, se saak is tot 22 Oktober uitgestel.

Die hofsaak spruit uit ’n polisieoptrede op Donderdag 27 Junie by die Conradies se woning in Hofmeyerstraat in Montagu.

Na verneem word het die polisie op dié betrokke dag gereageer op inligting van beweerde dwelmhandel by hierdie adres.

Volgens ’n bron wat betrokke was by die inhegtenisneming van die beskuldigdes, was die polisie glo in besit van ’n lasbrief om die woonperseel vir die teenwoordigheid van onwettige dagga te deursoek.

“Terwyl ons besig was om die huis te deursoek, het ons op ’n jaggeweer wat oop en bloot op die gastekamervloer gelê het, afgekom. Die polisielede het toe gevra aan wie die vuurwapen behoort,” vertel die bron.

Volgens die bron is hulle toe meegedeel dit is Prinsloo, wat by ’n ander adres woon, se jaggeweer. Prinsloo is toe glo gevra om na Conradie se huis te kom. Met sy aankoms was hy glo erg ontstoke, maar het na bewering wel erken dat dit sy vuurwapen is.

Die polisie het na bewering voortgegaan met hul deursoeking. Terwyl hulle daarmee besig was, is hulle glo deur ’n lid van die misdaadintelligensiekantoor in Worcester gebel en meegedeel om ’n “kamertjie” agter die hoofhuis ook te deursoek.

“Ons vra toe vir die eienaar van die huis of ons daar kan kyk en dis toe dat ons vuurwapens sonder permitte en een ongelisensieerde vuurwapen ontdek,” vertel die bron verder.

Daar is na bewering ook ’n groot hoeveelheid buskruit wat die wetlike voorskrifte oorskry en ’n hoeveelheid ammunisie van verskillende kalibers in die vertrek agter die huis gevind, volgens die bron.

Na bewering het die hoofverdagte, Conradie (snr.), glo erken hy doen die herlaai van patroondoppies vir jagdoel­eindes al bykans twee dekades lank.

Volgens die bron is die drie verdagtes toe vir verskeie vuurwapenverwante oortredings in hegtenis geneem, onder meer die besit van ongelisensieerde vuurwapens, die nalating om ’n vuurwapen in ’n kluis of instapkluis te bêre en meer as die voorgeskrewe 600 g buskruit in besit te hê.

Verder is op ses vuurwapens – een haelgeweer, vier jaggewere en een 9 mm- pistool – asook ’n hoeveelheid buskruit beslag gelê.

By navraag het AO Suria Meyer, kommunikasiebeampte vir die Montagu-polisiekantoor, bevestig dat drie verdagtes – 60, 45 en 33 jaar oud – op 27 Junie in verband met oortredings van die Wet op Beheer van Vuurwapens in hegtenis geneem is.

Die verdagtes is daarna vrygelaat – twee op borgtog en een op eie verantwoordelik­heid. Hulle moet op 22 Oktober in die plaaslike landdroshof verskyn nadat die saak uitgestel is in afwagting van ’n ballistiese verslag en twee uitstaande getuieverklarings.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article