MONTAGU – Twee T20-sagtebalkrieketwedstryde onder die vaandel van Montagu Sagtebalkrieketunie is die afgelope Sondag (20 Oktober) op die Montagu-sagtebalkrieketveld gespeel.
Die Pumas en die NFL-krieketspan het mekaar in die eerste wedstryd gepak. NFL het eerste gekolf en 131 lopies gemoker, maar in die proses ook sewe paaltjies verloor. Keanon Landsman was NFL se beste kolwer met 24 lopies, terwyl Reagan Julies vier paaltjies platgetrek het.
Die Pumas kon tydens sy kolfbeurt net 118 lopies bymekaarmaak, waarvan Irshwin Lekay ’n pragtige 62 lopies aangeteken het. Peter Wayne het drie paaltjies vir 15 lopies geneem. NFL het egter die wedstryd met 14 lopies gewen.
Kings en Blue Indians het mekaar in die tweede wedstryd die stryd aangesê. Kings het 88 lopies tydens sy kolfbeurt aangeteken, waarvan Charlton Evertson 20 lopies geslaan het. Zenen Oktober het drie paaltjies vir nege lopies laat kantel.
Blue Indians het die teiken net-net gemis en is almal vir 85 lopies uitgeboul. Anwar Khana het die beste met die kolf gevaar en 24 lopies aangeteken, terwyl Jaydry Jansen vier paaltjies vir slegs tien lopies laat spat het.
Kings het met vier lopies gewen.



