Ten spyte van die gure weer het Robertson se FA Pro 10-sagtebal-krieketkompetisie Sondag (14 Julie) voortgegaan.

Eerste op die speelvlak was die span van AH Marais, wat eerste teen Die Stoep gekolf het. AH Marais het die wind tot hul voordeel gebruik en 110/2 in sy 10 boulbeurte bereik.

A. Timmie (55) en G. Adams (37) was die kolwers wat uitgestaan het met ’n openingsvennootskap van 94 lopies.

W. van Staden (2/15) was Die Stoep se beste bouler.

Die Stoep het op sy beurt egter die wind van voor gekry en kon slegs 58/4 in sy 10 boulbeurte bereik. B. Erasmus (24) en A. Konstabel (17) het met die kolf uitgestaan. J. Mentza (2/4) en D. Fortuin (2/5) was Marais se beste boulers, en dié span het die wedstryd met 52 lopies gewen.

Volgende aan die beurt was RCB teen LBSKU. LBSKU kolf eerste en bereik 81/10 in sy 10 beurte. Chattas (27) staan uit met die kolf, en Faygen (3/28) en Scott (2/7) skitter vir RCB.

RCB op sy beurt kon net nie aan die gang kom nie en almal is vir net 22 lopies uitgeboul.

Shane (5) en Will (4) het probeer met die kolf maar Blink (2/4) en Waylin (1/5) het die boulaanval van LBSKU goed gelei. LBSKU het die wedstryd met 59 lopies gewen.

Dorpsig United het eerste teen Dorpsig Barbarians gekolf en almal is vir 50 lopies uitgeboul met C. Januarie (13) en H. Meyer (15) wat goed gekolf het. Joebie (2/6) was Barbarians se beste bouler.

Dorpsig Barbarians het goed begin, maar kort-kort paaltjies verloor en kon slegs 45/7 in sy 10 boulbeurte bereik. Tromp (32) was goed met die kolf. Micheal (3/5) en Nathan (2/4) was United se beste boulers. Dorpsig United het die wedstryd met vyf lopies gewen.

Laaste om te speel was Superstars teen die Indians.

Superstars het eerste gekolf en 110/3 in sy 10 beurte bereik, met D. Evertson (56) en L. Williams (33) wat goed kolf. G. Jansen (1/7) was Indians se beste bouler.

Indians op sy beurt kon slegs 77/5 in sy 10 boulbeurte bereik. M. Smith (19) was Indians se beste kolwer. D. Danster (2/14) was Superstars se beste bouler. Superstars het die wedstryd met 33 lopies gewen.

Sondag (21 Julie) sal daar weer aksiebelaaide krieket op Vaderblad, Dorpsig, wees:

11:00: Superstars t. AH Marais; 12:30: Pen United Blou t. Tornados; 14:00: Die Stoep t. Pen United Rooi; 15:30: Sunrisers t. Dorpsig Barbarians

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article