WELLINGTON. – Safcol van Grabouw is Saterdag (2 Desember) as die Boland-rugbyunie se nuwe Sanlam-Boland-Top-12-kampioen gekroon nadat hy Robertson Town in die Boland-rugbystadion op Wellington in ’n spannende eindstryd met 29-27 getroef het.
Die rustydtelling was 15-13 in Safcol se guns.
Town het van meet af aan ’n begeesterde vertoning gelewer en binne ’n paar minute ’n voorsprong van 10-3 opgebou.
Hoewel Safcol hom ingehaal en net voor rustyd verbygesteek het, het Town ná halftyd beheer geneem en tot diep in die tweede helfte die pas aangegee met die telling 27-15 in sy guns.
Town se onvermoë om die uitklophou te plant, het hom egter op die ou einde duur te staan gekom.
Ook het hy soms té entoesiasties gespeel deur van diep binne sy eie halfgebied aan te val, wat hom aan onnodige druk blootgestel het.
Daarby het Town by twee geleenthede toegelaat dat Safcol in ’n gunstige aanvalsposisie kom nadat hy (Town) die bal direk uitgeskop en sodoende speelgebied ingeboet het.
Safcol het die aanvanklike druk van die Breë-Langeberg-streekwenner goed verwerk en daarna met ’n reusagtige terugvegpoging vorendag gekom.
Die Grabouwers se onblusbare veggees en vasberadenheid het die momentum van die wedstryd in die laaste paar minute na hul kant geswaai.
Safcol het Town se doellyn met bitter min tyd oor meedoënloos aangeval.
Town se keerwerk het ’n ruk lank gehou, maar in die sowat 12 minute voor die eindfluitjie het Safcol, wat met al meer passie en intensiteit gespeel het, sy agterstand met twee verdoelde drieë uitgewis en die voortou met 29-27 geneem.
Town het geweier om boedel oor te gee en hom weer tot in Safcol se halfgebied gespeel, waar die groentruie vir ’n oortreding gestraf is.
’n Stilte het oor die stadion neergedaal toe die skeidsregter, Lee Beukes, met die amptelike speeltyd so te sê verstreke, ’n strafskop binne trefafstand van die doelpale aan Town toegeken het.
Ondersteuners van al twee spanne het om uiteenlopende redes die asem opgehou toe Gershwin Africa, die skrumskakel van Town, aangelê het pale toe.
’n Suksesvolle strafdoel sou die wedstryd in Town se guns beklink.
Ná ’n paar senutergende sekondes het Africa se skop – ongelukkig vir die Robertsonners, maar tot groot vreugde van die Grabouwers – regs verby getrek.
Die Safcol-spelers het uitbundig in die lug gespring en krete van blydskap geuiter, terwyl hul ondersteuners op hulle toegesak het. Town se spelers het verslae op die veld gedraal; party het gekniel met die teleurstelling duidelik op hul gesigte te lees.
Safcol het die rillerstryd uiteindelik 29-27 gewen en daarmee die Boland-rugbyunie se Grootuitdaagbeker-klubkampioenskaptitel vir 2023 beklink.


