Keenan Fredricks saam met sy vrou, Tamson, en hul twee kinders.


Bedags kom hy sy pligte in ’n skryfbehoeftewinkel na, en die res van die tyd skryf hy lirieke wat aandag trek.

Keenan Fredericks rymklets al sedert hy 14 jaar oud is en hierdie rymklets-avontuur het eintlik heel per toeval begin. Op daardie ouderdom moes hy ’n liedjie vir sy kuns- en kultuurklas skryf.

“My nefie-hulle het altyd rap-musiek gespeel en ek was altyd by hulle. Toe moes ek eendag ’n song vir ons kuns-en kultuurklas by die skool skryf. Dit was vir my baie interessant om te sien wat die hele proses behels om ’n liedjie te skryf en op te neem,” verduidelik Fredricks, ook bekend as K999.

Later was hy en Brandon Nichols, ook in die kuns- en kultuurklas, saam in ’n sokkerspan en hy nooi toe vir K999 om deel te wees van sy rymklets-groep.

Een van die vereistes van die groep is dat elke lid sy of haar eie liedjies moet skryf.

Toe hy in matriek was, het die groep uiteen gegaan, maar hulle het rymklets ’n paar jaar later hervat. Hulle is nou nog saam en staan bekend as Nu Vader.

“Ek dink ek was 15 jaar oud toe ek my eie liedjies begin skryf het, en ek was in matriek toe die groep uitmekaar is.”

As ’n mens vinnig kyk, lyk hierdie bedeesde rymkletser jonger as wat hy is, en as jy “te vinnig” luister, mis jy dalk die diepte van woorde.

Hy meen sy skryfstyl het oor die jare baie verander.

“Toe ek jonger was, het ek baie vanuit ’n plek van hartseer en woede geskryf, maar noudat ek ouer is en ’n pa ook is, vind ek ek skryf ook nou baie vanuit ’n plek van gelukkigheid – die lewe om my, wat ek raaksien, die lesse wat ek leer en my kinders inspireer my veral.”

Hy meen skryf is ook soms baie terapeuties vir hom.

“Ek sal soms iets skryf en dan neem ek dit nie eens op nie – ek vergeet daarvan. Dis omdat ek soms ook net skryf om dinge uit te kry en deur dit te werk, en as ek klaar geskryf het, voel ek beter.”

Hoewel hy Afrikaans grootgeword het, verkies Keenan om in Engels te skryf. Hy verkies ook om sy stukke met ’n pen in ’n boek te skryf – dit gee hom meer beheer oor hoe dinge inmekaar gaan inpas, sê hy.

“Aan die begin was dit vir my ’n challenge om in Engels te skryf, omdat ek Afrikaans grootgeword het. Wanneer ek in Engels skryf, moet ek my mindset só verander sodat die Engelse lirieke saam kan sin maak – veral wanneer die musiek bykom. Dit is ’n uitdaging, maar gelukkig geniet ek dit om myself uit te daag,” sê Fredericks.

Hy skryf maar soos die inspirasie en woorde hom tref en soms sit hy musiek op en freestyle, en op hierdie manier kry hy ook nuwe idees.

Sy planne vir die toekoms sluit in ’n klerereeks en gewis steeds musiek.

“In hierdie stadium fokus ek grotendeels op die klerereeks. Dit is nogal ’n passie van my. In die toekoms wil ek steeds betrokke wees by musiek, maar eerder in die agtergrond. Ek wil nie ophou om die jong manne en -vroue te inspireer nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article