Skokgolwe het Saterdag deur die rugbygemeenskap getrek toe die wedstryd tussen Worcester Villagers en Montagu Villagers ná slegs 17 minute gestaak is. Worcester Villagers het teen daardie tyd 7-0 voorgeloop.

Volgens inligting wat Standard bekom het, is die wedstryd afgelas nadat van Worcester-Villa se spelers glo in ’n losgemaal gebyt en geskop is.

Voorts is een van Worcester Villagers se spelers glo met die vuis op die mond geslaan nog voordat hy op die veld gestap het.

Quintin van Rooyen, voorsitter van die Boland-rugbyunie (BRU), het Maandagoggend bevestig dat “iets gebeur” het. Teen Dinsdagmiddag het Van Rooyen en die res van die komitee vergader oor die gebeure wat Saterdag op die veld in Montagu afgespeel het. Die unie sou later die aand ’n mediasessie regstreeks stroom waar hulle onder meer hieroor sou praat, maar die sessie is later as gevolg van beurtkrag gekanselleer. Teen Woensdagoggend het die BRU nog nie ’n amptelike persverklaring oor hul besluite na afloop van hul vergadering uitgestuur nie.

Villa se ondervoorsitter, André Swanepoel, het bevestig van sy spelers het deurgeloop. Hy was nie self daar nie, maar sê die spelers het hom na die tyd oor die voorval ingelig.

“Daar was Saterdag ’n situasie waarin geniepsigheid teenoor ons spelers plaasgevind het. Volgens wat deur die spelers by my aangemeld is, is een speler weg van die veld af op die mond geslaan en ’n ander is deur een van ons teenstanders gebyt.

“Dat iemand teen die kop geskop is, is egter nie by my aangemeld nie,” verduidelik Swanepoel.

Een van Villa se bestuurslede, Zakarieyah Don, wat Saterdag in die King Edward-stadion was toe die wedstryd gespeel is, het gesê al die voorvalle het tydens die wedstryd gebeur, behalwe die een speler wat voor die wedstryd op die mond geslaan is.

“Dit wat gebeur het, het heeltyd buite die sig van die skeidsregter gebeur. Nadat die speler egter die byt­merke aan sy lyf aan die skeidsregter gewys het, is die wedstryd ‘afgeblaas’. Volgens die skeidsregter het hy glo telkemale voor dit ook met albei spanne se kapteins oor hul spanne gepraat.

“Die skeidsregter se gevoel om die wedstryd te staak was in belang van alle spelers se veiligheid. Die ontvangs deur die toeskouers was egter baie goed.”

Don verduidelik verder Montagu Villagers se voorsitter, Fernando Hoofd, het nadat die wedstryd stopgesit is, die veld se hekke gesluit en die skare oor die luidspreker toegespreek.

“Daarna was dinge rustig,” sê Don.

Standard het Hoofd gevra of hy oor Saterdag se gebeure wou kommentaar lewer.

“Ek kan op hierdie tydstip niks sê nie. Ons moet maar Boland se protokol volg. Ek het geen kommentaar om tans te lewer nie,” het hy gesê.

Die uitslag van dié vergadering sal glo later in die week beskikbaar wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article