’n Jong, belowende rugbyspeler van die Perseverance-rugbyklub in Worcester is Dinsdagaand doodgesteek na ‘n beweerde onderonsie met ‘n vriend oor ‘n USB-stokkie.

Devanito “Worsie” Paulse (20) se familie is geskok oor sy skielike dood.

Paulse se  jarelange vriend het hom na bewering ’n paar meter van sy huis in Swartstraat in Rivierview met ’n mes in die nek gesteek.

Devanito “Worsie” Paulse is Dinsdagaand vermoor oor ‘n USB-stokkie.

Paulse se niggie, Tammarentia Louw, vertel dat Paulse se vriend glo nie die USB-stokkie vir hom wou gee nie.

“Een van sy ander vriende wat saam met hom was het gekeer dat hulle baklei en wou hom huis toe bring. Die ander ou het  hom egter glo gedreig en hom toe glo gesteek.  Die ou het hom gevloek.  As hy vir Worsie gevloek het oor sy ma, sou hy lelik kwaad geraak het. Hy het toe weer teruggegaan om sy ma se eer te beskerm,” sê Louw.

Paulse se ma is sewe jaar terug oorlede. Hy het op sy ma se verjaardag gesterf.

Louw voeg by sy vriend wat hom vroeër te hulp gesnel het, het toe by die hek uitgegaan en gesien Paulse hou sy nek vas en het hom toe verder gehelp.

“Ons kan nie regtig sê wat verder gebeur het nie. Dit is al wat ons nou weet.”

Die familie het Paulse as ’n baie nederige en stil mens beskryf.

“Hy was ’n mense-mens. Hy het ’n baie groot vriendekring gehad en het baie respek vir ouer mense gehad. Hy was baie plat op die aarde. Hy het almal geken en almal het hom geken. Hy was elke dag dieselfde,” sê sy broer Cheswin.

Paulse het sedert hy klaargemaak het met skool, vir Perseverance-rugbyklub se tweede span gespeel. Hy sou die komende Saterdag vir die eerste span uitdraf.

“Hy was baie lojaal teenoor sy span en wou nooit vir ’n ander rugbyklub in die dorp speel nie. Sy liefde vir dié klub kom al van skooldae af aan,” sê sy broer.

Paulse se ouma, Cathleen, sê  sy dood is  vir haar baie swaar.

“Hy sal nooit moeilikheid gemaak het nie en hy was ook nie ’n gewelddadige persoon nie. Ek het gesien dat dit sy vriende ook hard getref het. Hy het altyd al sy vriende na die huis toe gebring. Dat my kleinkind oor iets so eenvoudig soos n USB-stokkie moes sterf, is moeilik om te glo,” sê sy.

Danver Olsen, Perseverance se voorsitter, sê dit is ’n groot verlies vir die klub.

“Dit voel so onwerklik. Dit is moeilik om met dié realiteit gekonfronteer te word. Hy was ’n baie nederige, respekvolle jong man. Hy het altyd ’n glimlag op sy gesig gehad,” sê hy.

‘n Man is dieselfde aandvan die voorval in hegtenis geneem vir die moord.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article