Niemand sou kon raai dat ’n lieflike pretdag so tragies sou eindig nie nadat Nolan Adams, ’n 19-jarige inwoner en rugbyspeler van Piketberg en oudleerder van HS Drostdy in Worcester, verdrink het.
Die nuus van die jongman se sterfte het sy familie, die breë gemeenskap en sy rugby-familie hard getref. Adams het Sondag (26 November) in Ceres in die Witelsrivier verdrink nadat hy die naweek saam met vriende deurgebring en daar gaan swem het.
Volgens sy tannie Zelda Wilscott het die familie hom twee maande gelede laas gesien en nooit gedink die volgende keer wat hulle hom sou sien, sou dit sy lyk wees nie. “Ons het so gehoop dat dit nie hy was nie, maar toe die man die laken afhaal, het dit die werklikheid geword,” sê Wilscott.
Sy voeg by sy vriende het hul bes probeer om hom te red, maar die stroom was te sterk.
Volgens Clive Farao, voorsitter van die Piketberg-rugbyklub, het Adams in 2022 by die klub aangesluit en in dié kort tydjie baie vinnig diep in mense se hart gekruip. “Hy was ’n inspirasie vir baie. So jonk soos hy was, was hy ’n baie volwasse jongman na wie baie opgekyk het. Hy was ’n baie gerespekteerde speler.”
Ray van Rooy, die burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, deel dieselfde sentimente en sê Adams was ’n voorbeeldige jongmens, saggeaard, respekvol en ’n goeie sportman. “Hy het groot drome gehad.”
Medelye stroom in op sosiale media en talle spreek hul pyn en verlies uit.
Die familie bedank almal vir hul ondersteuning. Die begrafnis is Saterdag (2 Desember) om 09:00 by die Mount Olive AME-kerk in Piketberg.




