Die eerste ronde van die Boland-rugbyunie se liga-verpligtinge staan nou vinnig einde se kant toe.

In die grootuitdaagkompetisie (Langebergstreek) van die Boland was die grootste verrassing vir seker die afgelope Saterdag se skok-neerlaag van die voorlopers Robertson Town teen Montagu Villagers, en dit op sy tuisveld by die Van Zylstraat-stadion.

Die naasvoorlopers, Young Hamiltons van Worcester, het ook uitgehaal en gewys toe hulle Bonnievale Blue Birds laat les opsê het.

Hierdie Saterdag (10 Junie) hervat wedstryde weer in alle erns met Worcester Villagers wat besoek ontvang van die einste Robertson Town. Hierdie wedstryd behoort groot belangstelling gaande te maak, omdat dit juis Villa is wat verlede seisoen verhinder het dat Town nie in die top-12 kon speel nie toe die span Town op 31 Oktober verlede jaar in die laaste wedstryd van die liga met die kous oor die kop huis toe gestuur het.

Montagu-klub speel Saterdag tuis in die King Edward-stadion teen Robertson Rangers terwyl Swellendam op sy tuisveld teen Bonnievale Blue Birds te staan kom.

In Worcester is dit derbytyd wanneer Young Hamiltons teen sy bure Worcester Perseverance speel. Ashton United ontvang besoek van Proteas van De Doorns terwyl Montagu Villagers ná sy pragoorwinning oor Town ’n loslootjie geniet.

In die streekuitdaag-kompetisie van die Breërivier-afdeling speel De Doorns United teen Primrose van Worcester, terwyl Mountain Stars van De Doorns besoek ontvang van Touwpark van Touwsrivier. Alberts speel op 17 Junie sy laaste wedstryd tuis teen Rawsonville United.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article