Ná die afgelope Saterdag (29 April) se lekker rugby-derbies in die Langeberg- en Breedevallei-afdeling van die Boland-rugbyunie, hervat die rugby hierdie Saterdag in alle erns.

Spanne wat tot dusver nie te waffers gevaar het nie, moet nou hul sokkies optrek om nie te ver agter te raak nie.

In die Grootuitdaagbeker-afdeling speel verlede seisoen se kampioenspan, Robertson Rangers, tuis in Robertson teen die Montagu Villagers. Montagu-klub speel ook tuis op die King Edward-stadion in Montagu teen Worcester Villagers, terwyl Swellendam Saterdag tuis teen Ashton United speel, en Worcester Perseverance by die Esselenpark-stadion van die Proteas van De Doorns besoek ontvang. Bonnievale Bluebirds geniet tuisveld-voordeel teen Robertson Town terwyl Young Hamiltons ’n welkome loslootjie geniet.

In die Streekuitdaag-kompetisie (Langeberg-afdeling), speel McGregor tuis teen De Hoop Rangers van die De Hoop- plaasgebied, terwyl Swallows van Montagu tuisveld-voordeel teen Bonnievale United geniet.

Rooiberg, nog ’n plaasspan buite Robertson, speel tuis teen Suurbraak (in Suurbraak) terwyl Young Good Hopes van Ashton tuis teen die Buffalows speel.

United Stars
van die KOO-voedselhandelsmerk speel Saterdag tuis teen

Young Turbo’s van Keisie buite Montagu.

In die Streekuitdaag-kompetisie (Breëdevallei-afdeling), speel Touwpark van Touwsrivier tuis teen Klipdrift van Rawsonville terwyl Rawsonville United tuisveld-voordeel teen die Mountain Stars van De Doorns geniet.

Alberts, van Worcester, speel tuis op Bolandpark teen De Doorns United terwyl Orchard van die Hexriviervallei besoek ontvang van Primrose, ook van Worcester.

Villagers Breërivier geniet Saterdag tuisveld-voordeel teen Overhex.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article