Die afsterwe van Danfred (Boy Sole) Stanfliet (69) ná ’n hartaanval en beroerte gister (Woensdag 11 Januarie) is in plaaslike rugbykringe met diepe leedwese en skok ontvang.
“In sy fleur was ‘Boy Sole’, soos hy bekend gestaan het, ’n derduiwel en gevreesde agsteman vir die Villagers (Villa) sowel as die Boland se rugbyspanne. Dié sagmoedige reus en gesinsman was weg van die rugbyveld af geliefd onder die gemeenskap,” skryf die bestuur van die Villagers-rugbyspan.
Danfred was nie net by Villa of in Worcester bekend nie, maar ook regdeur die Wes-Kaap, waar hy gereeld vir werk gereis het.
Die houtpawiljoen langs die hoofpawiljoen op Bolandpark staan onder die gemeenskap as die “Boy-Sole pawiljoen” bekend, wat weer eens die groot rol wat Danfred in Worcester gespeel het, bevestig.. Begrafnisreëlings is in hierdie stadium nog nie bekend nie.





