Die ASD Sean Kelly-sentrum vir sensoriese gestremdes bied Vrydag 27 Oktober ’n kuier en dans aan.
Die sentrum is ’n geregistreerde organisasie sonder winsbejag en is verantwoordelik vir die versorging en terapie van kinders met meervoudige gestremdhede.
Die Sean Kelly-dagsorg- en Sean Kelly- kinder- en jeugsorgsentrums (KJSS) lewer dagsorg, sowel as residensiële dienste, aan 40 kinders met erge gestremdhede. ASD verskaf werk aan 28 versorgers, wat daagliks skofte werk om die veiligheid van die kinders te verseker.
Hulle is verantwoordelik vir die totale versorging – wat onder meer mediese sorg, klere, voeding, vervoer en toiletware insluit – van 15 kinders wat in Sean Kelly KJSS woon.
“Hierdie verantwoordelikhede bring hoë kostes tot gevolg. Die finansiering wat die organisasie van die regering ontvang, vorm slegs ’n klein deel van die inkomste en die bestuur van ASD moet gereelde geldinsamelingsprojekte hou om die maandelikse begroting te laat klop,” verduidelik Nicky Labuschagne, bestuurder.
Rugbykoors loop tans hoog in Suid-Afrika en net voor die rugby-eindstryd bied ASD ’n heerlike kuier-en-dans-geleentheid met die gaskunstenaars Die Broers aan.
Hulle vier Vrydag 27 Oktober fees by die Danie Luckhoff-saal in Tulbaghstraat. Kaartjies is te koop by die Sean Kelly-dagsorgkantoor in Waterloostraat teen R250 elk. Tien mense kan by ’n tafel sit. Verversings is ingesluit. Neem gerus jou eie drinkdingetjie en glase.
Hulle ook gaan weer pop-a-balloon speel teen R20 ’n beurt met heerlike pryse te wen.
Lootjies is beskikbaar teen R20 elk, of R200 per boekie met 10 lootjies. Pryse sluit in verblyf vir vier by die Middelvlei-gastehuis, ’n lam, R1 000 kontant, ’n boks 3-jaar KWV-brandewyn en Lazer Cutting-geskenkbewyse.
Hoe kan jy help?
. Nooi al jou vriende en gaan kuier saam;
. Borg ’n tafel vir 10 vir R2 500;
. Koop lootjie-kaartjies;
. Maak ’n finansiële bydrae tot die uitgawes; en
. Sluit aan by ASD Sean Kelly Worcester Facebook-blad.
Kontak Dries Burger by 082 803 3210 of Nicky Labuschagne by 082 895 8432 of stuur e-pos na manager@asd.org.za vir nog inligting.




